Brosjure. - Helpmekaar-Studiefonds
Brosjure. - Helpmekaar-Studiefonds
Brosjure. - Helpmekaar-Studiefonds
Transform your PDFs into Flipbooks and boost your revenue!
Leverage SEO-optimized Flipbooks, powerful backlinks, and multimedia content to professionally showcase your products and significantly increase your reach.
ORGANISASIEPROFIEL

Vir 90 jaar reeds lê die Helpmekaar se ontwikkeling- en bemagtigingspoor duidelik sigbaar oor ons landskap. Niemand sou kon

betwis nie dat die Suid-Afrikaanse samelewing op vele terreine armer sou gewees het sonder die bydraes van studente wat oor die

jare om finansiële hulp by die Helpmekaar aangeklop het.

Om uit die finansiële bronne tot sy beskikking studielenings teen billike koerse aan ’n teikengroep studente toe te staan om hulle

in staat te stel om tersiêre kwalifikasies te verwerf waarmee op tasbare wyse ’n bydrae tot die ontwikkeling van Suid-Afrika gelewer

kan word, was deurgaans die doel waarvoor die Helpmekaar hom beywer het.

In wese sou die Helpmekaar beskryf kan word as ’n organisasie wat deur die volgende gekenmerk word:

GELOOFSDAAD

’n Geloofsdaad

Christelike waardes

Onderlinge steun

Finansiële sekuriteit

Geborgenheid

Toekomsgerigtheid

HELPMEKAAR

STUDIEFONDS

J O U L O O P B A A N V E N N O O T

Die Helpmekaar is gebore uit die nood van Afrikaners wat na die rebellie van 1914 –15 in skuld gedompel was. Die groot bedrae

aan boetes en skadevergoeding wat die howe die rebelle opgelê het, het spontaan tot ’n filantropiese beweging gelei waardeur

geld landwyd ingesamel is om landgenote van finansiële ondergang te red.

Die poging, wat niks met die politiek van die dag te doen gehad het nie, was so suksesvol dat teen 10 November 1917 (algemeen

bekend as Helpmekaardag) die verstommende bedrag van £230 000 ingesamel is – £100 000 meer as wat nodig was om die

rebelle se skuld mee te delg.

Die byeenbring van so ’n bedrag, wat in vandag se geldwaarde etlike miljoene rand sal beloop en dít in die moeilike ekonomiese

omstandighede van daardie tyd, het gegrens aan ’n wonderwerk.

In ’n gedenkboek wat in 1918 deur Nasionale Pers uitgegee is, word die Helpmekaar beskryf as “die groote (sic) reddingsbeweging

van die Afrikanervolk waaruit die komende geslagte besielende krag kan put.”

1
Die surplus (£100 000) van die reuse-insamelingsveldtog van destyds is tussen die provinsies verdeel en al vier het

besluit om hierdie geld, wat uit karige middele byeengebring is, vir opvoedkundige doeleindes aan te wend. Kaapland

het met groter ywer as die ander gewoeker met sy fonds en in die gees van die Helpmekaar oral takke gestig en

gemeenskappe betrek. Teen 1970 het sy fonds reeds op R860 000 gestaan en sowat 20 jaar later op R10 miljoen.

Aan die einde van 2006 het dit nagenoeg R81 miljoen bedra.

Die Helpmekaar het as ’n beweging voortbestaan tot die kongres van 1965 in Port Elizabeth toe besluit is om die naam

van die Helpmekaarvereniging na Helpmekaar Studiefonds te verander.

In Chinees word die woord “krisis” deur twee simbole aangedui, waarvan die een “ramp” beteken en die ander

“geleentheid”. Uit die krisis van die beginjare van die vorige eeu het die Helpmekaar met ’n geloofsdaad ’n geleentheid

geskep waarvan die vrugte vandag steeds gepluk word.

Byna ’n eeu later is die belegging wat elke jaar in Helpmekaar-studente gemaak word eweneens ’n geloofsdaad

– geloof in die toekoms en in die potensiaal van ons jeug om hul talente sodanig te ontwikkel dat Suid-Afrika en

al sy mense daarby sal baatvind.

CHRISTELIKE WAARDES

Die Helpmekaar is ’n Christelike organisasie en ondersteun ’n leefwyse en waardes wat daarop gegrond is. Dit was die

fondament van sy ontstaan en dit vorm steeds die basis van sy etiek.

ONDERLINGE STEUN

Uit die gemeenskap tot voordeel van die gemeenskap. Dis hoe die Helpmekaar tot stand gekom het en sonder hierdie

onderlinge steun sou dit waarskynlik net ’n mooi idee gebly het.

Uit die staanspoor het die Helpmekaar hom verbind tot die ontwikkeling van hoëvlak-mannekrag in die land deur

die toestaan van lenings teen billike rentekoerse aan Afrikaanssprekende studente in studierigtings wat ’n hoë

waarskynlikheid van ’n volhoubare loopbaan bied.

Sedert die ontstaan van die Helpmekaar in 1917 is lenings ten bedrae van etlike miljoen rand aan duisende studente

toegestaan wat hulle in staat gestel het om kwalifikasies aan universiteite, technikons en kolleges te verwerf en ’n

leidende rol in die arbeidsmark en op verskillende terreine in die samelewing te speel.

Soos in die beginjare is die Helpmekaar steeds aangewys op die vrywillige steun van individue, gemeenskappe en

bevriende instansies om die nodige middele te vind waarmee hy sy doelwitte kan najaag.

FINANSIËLE SEKURITEIT

Die Helpmekaar is een van die weinige instellings wat in die volle finansiële behoeftes van Afrikaanse studente voorsien,

met geen diskriminasie op grond van ras, kleur of geslag. Die organisasie streef daarna om volledige sekuriteit aan sy

studente te gee, d.w.s. om hulle in staat te stel om vir die duur van die kursus al hul finansiële verpligtinge na te kom

2
sonder dat dit nodig is om alternatiewe bronne te vind. Dit impliseer volle lojaliteit, teenoor gedeelde lojaliteit – iets

waarop die organisasie ’n hoë premie plaas.

Om te studeer, is vandag nie goedkoop nie. Dit behels ’n langtermyn verbintenis en so ’n vennootskap kan alleenlik

op integriteit, wedersydse vertroue en onderlinge respek gegrond word. In ruil vir sy ondersteuning verwag die

Helpmekaar van studente om nougeset in hul studies en getrou in die nakoming van hul verpligtinge te wees.

Finansiële sekuriteit beteken ook oordeelkundige keuring om die risiko van beleggings in menslike kapitaal tot ’n

minimum te beperk en daardeur te verseker dat huidige en toekomstige leners voordeel kan trek uit ’n stabiele

finansiële omgewing en ’n bestendige vloei van fondse.

GEBORGENHEID

Anders as die meer kliniese verhouding wat normaalweg tussen die individu en ’n finansiële instelling bestaan, is die

Helpmekaar se verhouding met sy studente een van geborgenheid.

Op sy kortste strek hierdie verhouding gemiddeld oor nege jaar (driejaar-studietydperk plus ’n terugbetalingstermyn

dubbel so lank) en in die geval van die langer kursusse oor ’n tydperk van 12 tot 18 jaar – byna die duur van ’n

verband op ’n huis (of tuiste).

Vir die student wil die Helpmekaar juis dit wees: ’n tuiste weg van die ouerhuis. Dis waar hy met groot vrymoedigheid

kan aanklop, ook as die donker wolke op persoonlike of akademiese gebied saampak. Studielenings is wel die hart

van die Helpmekaar se aktiwiteite, maar om jongmense te begelei op die pad na sukses, is die bloed wat daardie hart

laat klop.

Vir studente is die teenpool van die voorregte wat hulle by die Helpmekaar geniet die verpligting om die vertroue wat in

hulle gestel word, werd te wees sodat die ontwikkeling van hul potensiaal die verlangde dividende kan lewer.

TOEKOMSGERIGTHEID

Die visie van die Helpmekaar word gedryf deur die wete dat beleggings in die talente en vernuf van die jeug van vandag

die sekerste manier is om die toekoms positief te beïnvloed en te verseker dat die geleenthede wat hulle opleiding

ontsluit, die land se ontwikkelingspad volhoubaar maak.

Die Helpmekaar het ’n trotse verlede, maar dis juis die uitdagings van die hede, waaronder die beskikbaarheid van

studiefondse en werkgeleenthede vir Afrikaanssprekendes, wat verseker dat die organisasie se oë stewig op die

toekoms gerig is. Hy beskou dit as sy roeping en voorreg om die hoop en ideale van Afrikaanse jongmense brandend

te hou deur genoegsame studiefondse beskikbaar te stel aan diegene wat die potensiaal het om ’n verskil in ons

samelewing te maak.

3
W E R K S A A M H E D E

STRUKTUUR EN BESTUUR

Die Helpmekaar Studiefonds het vir baie jare as ’n onafhanklike trust, met ’n raad van trustees, gefunksioneer. Vanweë

veranderinge in belastingwetgewing is dit in 2002 as ’n artikel 21-maatskappy geregistreer onder die beheer van ’n

funksionele direksie, wat minstens vier keer per jaar vergader en aktief by die werksaamhede van die maatskappy

betrokke is.

Die kantoor van die Helpmekaar bestaan uit ’n bestuurder en twee administratiewe beamptes en hulle word

ondersteun deur ’n Finansiële Komitee en ander komitees van die direksie wat van tyd tot tyd aangewys word om

spesifieke opdragte uit te voer.

LENINGSADMINISTRASIE

Die toestaan van lenings aan studente wat volgens die oordeel van die Helpmekaar die vermoë het om suksesvol

te wees in studierigtings wat ’n goeie kans tot indiensname en selfwerksaamheid bied, is die kernbesigheid van die

maatskappy.

Studente word hoofsaaklik by Afrikaanse skole in die Wes- en Oos-Kaap, die hoofbedieningsgebied van die Helpmekaar,

gewerf, terwyl aansoeke uit KwaZulu-Natal ook gehanteer word ingevolge ’n samewerkingsooreenkoms met die

Helpmekaar in dié provinsie.

Benewens die lenings wat aan eie studente toegestaan word, administreer die Helpmekaar ook teen vergoeding

verskeie buitefondse, waaronder die personeelstudiefondse van maatskappye soos British American Tobacco,

Distell, WPK en M&I Groepsdienste. Die keuring van hierdie lenings word deur die ondernemings self gedoen.

Teen die einde van 2006 het die Helpmekaar in totaal 364 lenings geadministreer, wat ’n kapitale belegging van

R8 miljoen verteenwoordig het.

Lenings word vir die volle duur van ’n kursus toegestaan en die terugbetalingstermyn is dubbel dié van die

studietydperk. Dit beteken dat ’n student na die voltooiing van ’n driejaar-graadkursus ses jaar het om die lening

terug te betaal. Afgestudeerdes kry ’n grasieperiode van drie maande voordat die delging van lenings begin.

Die Helpmekaar se rentekoerse vir studielenings is waarskynlik billiker as dié van enige ander instansie in Suid-Afrika

wat studiehulp aan studente verleen. Rente gedurende die studietydperk word maandeliks deur die ouer/borg/

voog betaal.

Vanweë die duur van die Helpmekaar se vennootskappe met sy studente, en die finansiële implikasies daarvan, is dit

belangrik dat noulettende aandag aan die keuringsproses gegee word. Ten einde leningsrisiko’s tot ’n minimum te

beperk, neem die Helpmekaar die volgende in aanmerking by die toestaan van lenings:

4
GELDBRONNE

akademiese prestasie, wat ’n aanduiding gee van ’n redelike kans op sukses in die gekose kursus;

studierigting, wat geredelik kan lei tot ’n toepaslike loopbaan;

tersiêre inrigting waar kursus aangebied word (dit moet by die SA Kwalifikasie-Owerheid geakkrediteer

wees);

sekuriteit, wat sodanig moet wees dat dit die grootste gedeelte van die studieskuld kan dek;

finansiële vermoë van die ouer/borg/voog om die renteverpligting ten opsigte van die lening tydens die

studietydperk na te kom.

Soos reeds genoem, het die Helpmekaar sy ontstaan gehad uit ’n saamstaanpoging feitlik sonder gelyke in die land

se geskiedenis. Uit die surplus wat ingesamel is om landgenote in nood by te staan, is ’n fonds vir opvoedkundige

doeleindes gestig waarmee duisende jongmense ekonomies bemagtig is.

Deur die jare is die vloei van fondse lewend gehou deur die bydraes van kerke en bevriende maatskappye, asook deur

die entoesiasme en ywer van individue wat met skenkings en erflatings hul geloof in die doelwitte van die Helpmekaar

bevestig het.

Die loodsing van die Entrepreneursfonds in 1996 het die Helpmekaar finansieel ’n hupstoot gegee en die organisasie

in staat gestel om die lank gekoesterde ideaal van 100 nuwe lenings per jaar in die eerste jaar van die nuwe millennium

te verwesenlik. Daarna is die proses versnel en kon gemiddeld 170 nuwe lenings per jaar toegestaan word.

Die stigting van die Entrepreneursfonds is deur die sosiale transformasieproses in die land sedert 1994 genoodsaak.

Baie tradisionele werkgeleenthede het geleidelik minder toeganklik vir Afrikaanssprekendes geraak en talle

jongmense was verplig om na ander werkomgewings uit te wyk, selfs in die buiteland, of om hulle as entrepreneurs

te bekwaam en sodoende werkgewers pleks van werknemers te word. Die Helpmekaar het in ’n vroeë stadium hierdie

tendens voorsien en daarop gereageer met ’n geslaagde insamelingsprojek, waarvan die mikpunt op R6,5 miljoen

gestel was.

Vanweë die Helpmekaar se relatief lang betrokkenheid by ’n student (tussen 9 en 18 jaar) moet ’n aansienlike

wentelfonds in stand gehou word om volhoubaar in die behoeftes van nuwe leners te voorsien. Dit is dan ook een van

die grootste uitdagings waarvoor die organisasie vroeg in die nuwe eeu te staan gekom het.

HELPMEKAAR TRUST

Een manier waarop die uitdaging om voldoende fondse te vind, aangepak word, is deur die Helpmekaar Trust, wat in

2005 tot stand gebring is om duideliker gestalte te gee aan twee van die Helpmekaar se kernwaardes: hulpverlening

en medemenslikheid.

5
Die belangrikste doel van die Trust is om in die wordingsgees van die Helpmekaar ’n groter mate van ondersteuning

te gee in verdienstelike gevalle waar belowende studente deur moeilike finansiële omstandighede tuis aan bande gelê

word. Naas prestasiebeurse, waarmee uitmuntendheid steeds beloon word, word merietebeurse en rentebeurse ook

volgens sekere riglyne toegestaan.

Anders as die Helpmekaar Studiefonds, wat belastingpligtig is, geniet die Trust vrystelling ingevolge artikel 10 (1) 18 (A)

waarvolgens skenkings aan die Trust aftrekbaar is vir belastingdoeleindes tot die perk deur die wet toegelaat. Bemakings

aan die Trust is ook vry van boedelbelasting.

LANGTERMYNDOELWIT

Oor die jare het baie leninghouers van die Helpmekaar in hul beroepslewe voortreflike diens aan Suid-Afrika gelewer op

akademiese, kulturele, godsdienstige, ekonomiese, wetenskaplike en opvoedkundige gebied.

Die Helpmekaar het geen rede om te glo dat dit in die toekoms anders sal wees nie. Sy visie en missie bly dus om met

die bronne tot sy beskikking die beste moontlike belegging te maak om Afrikaanssprekende jongmense akademies

toe te rus vir die toenemende uitdagings van die plaaslike arbeidsmark, asook vir die eise van internasionalisering

en globalisering.

Met ’n trotse verlede as riglyn en sy oë vol vertroue op die toekoms, is die Helpmekaar volstoom op pad na sy eerste

eeu van dienslewering aan die Afrikaanse jeug van Suid-Afrika. Die organisasie sal sy doelwitte egter net kan bereik

as diegene wat sy saak goedgesind is in die ware gees van die Helpmekaar hande vat om dit finansieel volhoubaar

te maak.

6