04.04.2017 Views

157933 Pieter Kokkewieter - Boek_12Oct LOW RES[1]

Create successful ePaper yourself

Turn your PDF publications into a flip-book with our unique Google optimized e-Paper software.

Pieter Kokkewieter

en die hart op sy mou

MILAN MURRAY | CHARMAINE NOLTE | MARISA DU TOIT

Eerste Uitgawe 2015

Teks © Murray & Me 2015

Illustrasies © Murray & Me 2015

Hierdie uitgawe eerste gepubliseer in 2015 deur Murray & Me

Posbus 211, Kernkrag, 7441

www.murrayandme.co.za

Alle regte voorbehou.

Geen gedeelte van hierdie boek mag sonder die skriftelike verlof van die

uitgewer geproduseer of in enige vorm deur enige elektroniese of

meganiese middel weergegee word nie, hetsy deur fotokopieering, skryf-of

bandopname, of deur enige ander stelsel van inligtingsbewaring

of –ontsluiting. Enige persoon wat bogenoemde verontagsaam mag

krimineel vervolg word.

ISBN 978-0-620-68175-9

Uitleg deur www.nikidesign.co.za

Gedruk deur Boland Drukpers (EDMS) BPK

Vir Amélie, Sebastian, Steph, Lua, Phoebe en Zoé

Mag julle vir altyd julle harte vreesloos en moedswillig op die mou dra.

Pieter Kokkewieter

en die hart op sy mou

GESKRYF DEUR MILAN MURRAY

PRODUKSIE DEUR CHARMAINE NOLTE

ILLUSTRASIES DEUR MARISA DU TOIT

Iewers in ‘n gewone huis

op ‘n gewone dorp

het daar ‘n gewone klein seuntjie

saam met sy gewone pappa en mamma gebly.

Hy het gewone maatjies gehad

en

na ‘n gewone skool gegaan.

Maar sy ongewone naam was

P i e t e r K o k k e w i e t e r .

Hy het gewone speletjies gespeel

en na gewone liedjies geluister.

Hy het met ‘n gewone bril gelees

en

gewone wense gewens.

Maar vir nóg ‘n rede - behalwe sy vreemde naam

- was Pieter Kokkewieter baie ongewoon.

Wil jy raai wat dit kan wees?

Hy het met sy hart op sy mou geloop!

Jy sou dalk dink dis gevaarlik of sommer net

verspot om met so ‘n belangrike ding so

oop en bloot te loop.

Maar vir Pieter Kokkewieter was dit glad

nie vreemd nie.

Vandat hy kan onthou, het sy hart gesond en

gelukkig op sy mou geklop.

“Jou hart gaan seerkry”

het sy ma bekommerd gewaarsku.

“Sê nou dit kry ‘n stamp?

Of erger, sê nou net hy breek?”

“Ja, bêre hom veilig in jou bors, waar hy hoort” het

sy pa in ‘n diep stem gebrom.

Maar Pieter Kokkewieter het daarvan gehou

dat sy hart wys hoe hy voel.

Hy’t braaf sy breë glimlag agter sy ore ingehaak

en sy hart net daar gelos

- stewig op sy mou.

Almal het altyd geweet hoe hy voel,

omdat sy hart so gemaklik aan sy

buitekant sit.

Jy kon dadelik sien of hy

hartseer of kwaad is.

Maatjies het nie nodig

gehad om te wonder of hy

lus is vir speel, of dalk net alleen wil wees nie.

Sy hart het dit gewys - groot en duidelik,

daar op sy mou!

Maar eendag het die vreeslikste ding gebeur.

Op die speelterrein, toe sy juffrou

nie kyk nie, het Boelie Shmoelie

en sy trawante vir

Pieter Kokkewieter tromp-op

geloop.

Boelie Shmoelie is ‘n lang seun wat soos ‘n toring

bo Pieter staan. Hy het sy lang, dun skaduwee

stadig oor Pieter Kokkewieter se gesig geskuif.

“Siestog, het jy hierdie nodig om

beter te kan sien, my kind?”

het hy in Pieter Kokkewieter

se gesig gevra.

Hy het met sy knobbelrige

wysvinger op die raam

van Pieter se bril getik.

Pieter se oë het amper

groter as sy brilraam gerek.

Nog nooit het iemand

so met hom gespot nie.

Hy het altyd gedink die bril laat hom slim lyk.

Al sy maats het dan so gesê.

Pieter Kokkewieter het senuweeagtig sy bril

op sy neus reggeskuif.

“Uhm… uhm...”

Hy het woorde gesoek om te sê,

maar kon hulle nie kry nie.

Toe begin al die seuns lag.

Eers die een en toe die ander.

Harder en harder het hulle gelag en hulle

magies vasgehou.

Selfs toe hulle al aan die anderkant van

die sportveld is, kon Pieter hulle nog

hoor lag.

Toe almal uiteindelik

weg is, en Pieter

alleen bly staan,

sien hy...

… sy hart lê op die grond.

In twee stukke

g e b r e e k.

Daardie aand, toe die sterre helder deur die

kamervenster skyn, het Pieter Kokkewieter ‘n baie

groot besluit geneem.

Hy’t die twee stukke van sy hart versigtig opgetel

en, soos sy pappa gesê het,

diep binne-in sy bors gebêre.

Toe hy later met sy kop op sy kussing lê, kon hy

die dowwe doef-doef van sy hart net-net hoor.

En die hart se plekkie

op sy mou was

leeg.

Sy maatjies kon nie meer sy hart sien

om te weet hoe hy voel nie.

Van daardie dag af

het Pieter Kokkewieter se gesig altyd

dieselfde gelyk.

Amper soos ‘n masker.

Of hy nou hartseer of kwaad of

opgewonde was,

sy gesig het presies dieselfde gelyk.

Toe, op ‘n dag, tydens ‘n gewone pouse by sy

gewone skool, sien Pieter iets baie ongewoon.

Boelie Shmoelie het gebuk om ‘n sokkerbal op te

tel toe Pieter ‘n rooi hart onder sy broekspyp sien

uitsteek.

Boelie Shmoelie se hart was halfpad in sy skoen!

“Jou hart het in jou skoen afgesak”

fluister Pieter Kokkewieter vir hom sodat die ander

maats nie hoor nie.

Boelie Shmoelie het bloedrooi gebloos.

Dis iets wat Pieter nog nooit gesien het nie.

Toe die ander kinders ver aan die anderkant van

die veld met die sokkerbal speel,

het Boelie vir Pieter sy groot geheim vertel:

“Ek het nie die moed om vir mense te sê ek is eintlik

ongelukkig nie. Dan sak my hart af tot in my skoen.

Ek het altyd so gewens ek kan my hart op my mou

dra soos jy, maar ek is te skaam.

Daarom steek ek hom maar in my skoen weg.”

Laat daardie aand, toe almal in die huis al slaap,

het Pieter Kokkewieter nog aan Boelie Shmoelie se

woorde gedink. Hy kry vir ou Boelie jammer.

Dalk dink Boelie as hy so bo-oor almal toring sal

hulle nie die skaam hart in sy skoen raaksien nie.

Nee wat, dink Pieter, wie wil nou met sy hart in sy

skoen loop?

Dan loop ek liewer met myne trots op my mou.

En, vir die eerste keer in weke,

het ‘n groot glimlag oor Pieter se

gesig versprei. So groot dat hy

dit weer agter sy ore moes

inhaak.

Hy het finaal besluit.

Hy wil nooit ooit skaam wees om

te wys hoe hy voel nie.

Wie weet,

dalk eendag, as jy gaan

kuier op ‘n gewone dorp

met gewone huise

waar gewone maats buite speel,

sal jy vir Pieter Kokkewieter

tussen die kinders sien.

Die klein seuntjie,

met die groot bril en

die rooi hart op sy mou.

MURRAY & ME se idioomreeks

is ‘n heerlike hulpmiddel om kinders te help

om die brug tussen konkrete en abstrakte denke

oor te steek.

Grootmense dra selde hulle hart op hulle mou. Hulle steek dit

eerder weg. Hou dit geheim. Kinders, aan die ander kant, wys braaf

en eerlik hoe hulle voel.

Presies waneer word ons so selfbewus oor ons binneste? Op

watter oomblik vou ons beskermend ons hart toe en bêre dit weg?

“Nee wat, dink Pieter, wie wil nou met sy hart in sy skoen loop.

Dan loop ek liewer met myne trots op my mou.

En, vir die eerste keer in weke, het ‘n groot glimlag oor Pieter se

gesig versprei. So groot dat hy dit weer agter sy ore moes inhaak.

Hy het finaal besluit.

Hy wil nooit ooit skaam wees om te wys hoe hy voel nie.”

Milan Murray is ‘n akteur, skrywer & regisseur.

Haar eerste boek,

‘Koemelaat - ‘n sanity joernaal van ‘n nuwe ma’

is ook by Murray & Me beskikbaar.

Sy woon in Melkbosstrand

saam met haar man & twee kinders.

ISBN 978-0-620-68175-9

97 80620 681759

Hooray! Your file is uploaded and ready to be published.

Saved successfully!

Ooh no, something went wrong!