11.05.2020 Views

ENGO TRAKTAATJIE. Het die lewe nog sin as ons só moet leef.docx.2

Create successful ePaper yourself

Turn your PDF publications into a flip-book with our unique Google optimized e-Paper software.

Pandemietyd-bemoediging van jou hospitaalleraar en almal by ENGO.


Inperking, afsondering, grendeltyd...

Soos mense in ongeveer 170 ander lande,

moet ons die owerhede, wetenskaplikes

en medici gehoorsaam sodat ons nie met

die Covid-19 virus geïnfekteer sal word

of ander onwetend as draers daarvan sal

infekteer nie.

Een-een gaan ons uit ons huise, net om

kos en medisyne te gaan koop. Ons voel

tóg onseker en onveilig wanneer ons dit

buite ons woonplek waag. Elke

oppervlakte kan virusbesmet wees:

deurknoppe, hysbakknoppe, die sakkie

waarin jou appels verpak word, die

supermarkvloer waarop jy trap. Die virusse kan aan jou skoensole saam met jou

terugkom huis toe. Op TV word tuisvideo’s vertoon van dinge wat bevoorregte mense

in hierdie tyd doen. Sommige geniet die tyd terdeë. Mense maak weer tuin, toets

1


resepte uit en skep hulle eie pret. Maar God se mense dink ook aan honderde duisende

brandarm mense wat geen pret in hulle sinkhuisies het nie. Hulle is net honger en

radeloos, want hulle kan nie kos of medisyne gaan koop nie. Hulle het nie geld

daarvoor nie.

God se mense dink baie aan Jakobus 2:15-17:

Sê nou daar is 'n broer of 'n suster wat nie klere het nie en dag vir dag honger ly, en sê

nou een van julle sou vir hulle sê: "Mag dit met julle goed gaan; gaan trek julle warm

aan en eet genoeg," maar julle gee nie vir hulle wat hulle nodig het om van te lewe nie,

wat help dit dan? So gaan dit ook met die geloof: as dit nie tot dade oorgaan nie, is dit

sonder meer dood.

Omdat ons in Christus is en Hy in ons, soek ons maniere om iets aan die ellende van

arm, honger en radelose mense te doen. Soos Paulus vra ons: 'Wat moet ek doen, Here?'

[Hand 22:10] As ons vra hoe ons vir God bruikbaar kan wees, sal Hy ons antwoord.

En Hy sal alles voorsien wat ons nodig het om sy wil uit te voer.

MAAR DAN KOM DIE VRAE

Partykeer kom daar ook vreemde vrae in ons op. Voel huisarres só? Hoekom laat die

HERE dit toe dat my lewe nou so klein moet wees, byna soos ‘n vierkantige vloerteël?

2


Ek kan mos sien watter groot verliese ek gaan ly. Hoekom, HERE? Baie mense gaan

hulle werk verloor. Baie mense gaan verarm. Hoekom, HERE? Watter sin is daar in die

lewe as alle sekuriteitsbasisse inmekaartuimel?

God het in ons tyd vir die hele mensdom gewys dat

Hy alles wat vir mense belangrik is, soos ‘n mat

onder hulle kan uitruk. Wat beteken rykdom nou?

Wat beteken status nou? Wat beteken deftige klere

en baie pare skoene nou? Wat beteken ‘n huis met ‘n

see-uitsig? Of uit-eet, of albums vol foto’s van

oorsese reise?

Al hierdie aardse goed beteken nou net mooi niks nie.

WAT GOD BESLUIT HET, GEBEUR

Ons besef dat niks vir God onmoontlik is nie. Hy kan alles op die hele aarde binne dae

verander, en Hy het. Dit weet ons nou. Hy is die God wat vir Jeremia gesê het:

Ek is die Here die God van al die mense. Is iets vir My onmoontlik? [Jer 32:27]

3


God het gedoen wat Hy van Homself vir die profeet Jesaja gesê het om vir mense te sê:

Ek kondig vantevore aan wat later sal kom, lank tevore al wat nog nie gebeur het nie.

Ek sê wat Ek besluit het en dit gebeur, wat Ek wil, doen Ek. [Jes 46:10]

Ons bewe voor die grootheid van God. Ons besef hoe klein ons is. Hoe afhanklik ons

van Hom is.

DAAR IS OOK VERWONDERING IN VREESLIKE TYE

Ons is bly en verwonderd dat die lug en die see skoner word. Dit verstom ons dat God

die natuur so laat herstel. Ons beleef groter harmonie en ‘n gees van samewerking en

ontferming op baie terreine. In baie gesinne geniet en waardeer die gesinslede mekaar

dalk vir die eerste keer in baie, baie jare. In baie gesinne word daar nou meer oor God

en oor sy Woord gepraat as ooit tevore.

Ons verstaan skielik presies wat Paulus bedoel het toe hy Romeine 11: 33-36 geskryf

het: O diepte van die rykdom en wysheid en kennis van God! Hoe ondeurgrondelik is sy

oordele, hoe onnaspeurlik sy weë! Wie ken die bedoeling van die Here? Wie gee Hom

raad? Wie bewys Hom 'n guns, sodat Hy verplig is om iets terug te doen? Uit Hom en

deur Hom en tot Hom is alle dinge. Aan Hom behoort die heerlikheid tot in ewigheid!

Amen.

4


MAAR ... HET DIE LEWE REGTIG NOG SIN?

Ons lees en oordink en weet en glo al hierdie dinge. Maar ons, jy en ek, voel ook :-

so bitter onseker oor wat die toekoms inhou;

so bitter onseker of ek my werk gaan behou;

onseker of ek my pensioen gaan behou;

onseker of ék gesond gaan bly.

Hoe meer onseker ‘n mens voel, hoe nader kruip ‘n

gedagte wat jy dalk nog nooit gedink het nie. Jy

begin tot die slotsom kom dat die lewe sinloos is. Dat

dit eintlik nie die moeite werd is om te leef nie. Jy

wonder waarom jy so mooi met almal saamwerk om

tog net te bly leef, om tog net nie die Covid-19 siekte

op te doen nie.

VIKTOR FRANKL HET DIESELFDE VRAAG GEVRA

Weet jy wat? Een van die bekendste sielkundiges het ook so gevoel. ‘n Stuk van Viktor

Frankl se lewensverhaal speel in ‘n Nazi konsentrasiekamp af. Daar was hy nog meer

ingeperk as ons. Daar kon hy, soos duisende ander, enige dag sterf. Daar moes hy net

probeer om lewend te bly, sonder lig voor in die tonnel. Daar het hy gereeld gedink dat

5


die lewe sinloos was. Hy het gesien hoe vroue, kinders, lewensmaats en ouers met

geweld van mekaar geskei word. Hoe hulle aangerand word, hoe hulle een snytjie

brood as kos vir die hele dag gekry het, en dan moes hulle hande- arbeid verrig. Dié

wat uitgesak het, is summier geëlimineer.

‘N EERSTE BESLUIT

Viktor Frankl het ‘n eerste besluit geneem: As ek nie sin in hierdie lewe kan sien nie,

moet ek opkyk na God. Hy moet my die sin van mý lewe laat ontdek. Hy moet die sin

van mý lewe aan my openbaar. “Want die sin van die lewe verskil van mens tot mens,

van dag tot dag, van uur tot uur. Wat saak maak, is dus nie die sin van die lewe in die

algemeen nie, maar eerder die spesifieke sin van elke persoon se lewe in ‘n spesifieke

oomblik.”

JESUS CHRISTUS HET DIE SIN VAN SY EIE LEWE GEKEN

So het Jesus gemaak. Hy het geweet wat die spesifieke sin van sy lewe was, elke

oomblik wat Hy hier op die aarde geleef het.

Op pad na Jerusalem, waar Hy gekruisig sou word, het alles byna te veel vir Jesus

geword. Toe het Hy met sy Vader gepraat: “Nou is Ek diep ontsteld. En wat moet Ek

sê? Moet Ek sê: Vader, red My uit hierdie uur? Maar juis hiervoor het Ek gekom, vir

6


hierdie uur. "Vader, verheerlik u Naam!" Toe het daar 'n stem uit die hemel gekom:

"Ek het my Naam verheerlik, en Ek sal dit weer verheerlik." [Joh 12: 27-28]

Jesus het in daardie oomblik geweet: EK het hiervoor gekom, om sondaars se straf aan

die kruis te dra, sodat hulle vrygespreek kan word.

Petrus sou dit nie kon doen nie. Isak se vrou Rebekka sou dit nie kon doen nie.

Abraham sou dit nie kon doen nie. Dit was Jesus se onderneming en opdrag en

liefdesdaad om kruis toe te gaan. Dit was die spesifieke sin van Jesus se hele aardse

lewe, en ook in ‘n spesifieke oomblik en uur en tyd.

PAULUS HET DIE SIN VAN SY EIE LEWE GEKEN.

Paulus se lewe was totaal anders as joune en myne. Jy is dalk ‘n sakeman of ‘n

spysenier. Paulus moes die boodskap van Jesus Christus aan mense in die Noordelike

Halfrond gaan verkondig. Hy het vreeslike tye beleef waarin hy seker ook gereeld

gewonder het of enigiets nog sin maak. Maar God het vir hom die spesifieke sin van sý

lewe in ‘n spesifieke bediening gewys:

Ek verkondig die evangelie omdat ek móét! En wee my as ek dit nie doen nie! [1 Kor

9:16]

7


‘N VRAAG EN “N TWEEDE BESLUIT

Kom ons kyk weer na Viktor Frankl. Toe die lewe sinloos gevoel en gelyk het, het hy

besluit om elke dag ‘n tweede vraag vir homself te vra: Watter sin gee ék aan die

lewe?

Hy het begin insien dat hy sin aan die lewe gee deur mense lief te hê. Deur sy liefde op

ander uit te stort. Hy skryf: “We who lived in concentration camps can remember the

men who walked through the huts comforting others, giving away their last piece of

bread. They may have been few in number, but they offer sufficient proof that

everything can be taken from a man but one thing: the last of the human freedoms — to

choose one’s attitude in any given set of circumstances, to choose one’s own way.”

GEEN LEWE HET NOG OOIT GROTER SIN GEMAAK AS JESUS S’N NIE

Deur liefde op ander uit te stort terwyl jy self deur donker dieptes gaan, gee jy weer sin

en betekenis aan jou eie lewe. Jesus het dit aan die Kruis gedoen, in die laaste ure van

sy lewe. Hy het liefdevol met die smekende misdadiger aan die kruis langs hom

gepraat. Hy het die Vader gevra om almal wat spykers in sy hande en voete kap, te

vergewe. Hy het ons almal so lief gehad dat Hy sy lewe vir ons gegee het.

Niemand se lewe en lyding het nog ooit groter sin gemaak as Jesus s’n nie.

8


Die Drie-enige God wil hê :-

dat elkeen van ons ons eie, persoonlike en unieke lewe ook as sinvol sal beleef;

dat ons Hom moet vra om vir ons die sin van ons eie lewe te wys;

dat ons sin aan die lewe moet gee, soos Hyself. Soos Paulus. Soos Viktor Frankl.

MOENIE VREES NIE!

Net ten slotte: voel jy steeds broos en bang in hierdie tyd van ‘n pandemie en so baie

onbekende en onvoorspelbare dinge? Gun jouself net ‘n paar oomblikke en lees hier.

Die Bybel sê:

Hy (die Here) gee my nuwe krag. [Ps 23:3]

Vra, en vir julle sal gegee word; soek, en julle sal kry; klop, en vir julle sal

oopgemaak word, want elkeen wat vra, ontvang; en elkeen wat soek, kry; en vir elkeen

wat klop, sal oopgemaak word. [Matt 7: 7– 8]

Mat 9:22 En Jesus het omgedraai en haar gesien en gesê: Hou goeie moed, dogter,

jou geloof het jou gered. En die vrou het gesond geword van daardie uur af. [Matt 9:22.

1933 Afrikaanse vertaling van die Bybel )

9


Heb 13:5 God self het gesê: "Ek sal jou nooit verlaat

nie, jou nooit in die steek laat nie."

Liewe medemens en kind van God op hierdie vreemde, nuwe pad wat met die uitbreek

van die Covid-19 siekte begin het: bly net so afhanklik van God. Bly net so met Hom

praat soos Viktor Frankl, soos Paulus, soos Jesus Self toe Hy nog op die aarde was.

God sal aan JOU die sin van JOU lewe in hierdie tyd openbaar.

A man who becomes conscious of the responsibility he bears toward a human being

who affectionately waits for him, or to an unfinished work, will never be able to throw

away his life. He knows the 'why' for his existence, and will be able to bear almost any

'how.' --Viktor E. Frankl, Man’s search for Meaning.

ENGO is die Barmhartigheidsdiens van die Ned Geref Kerk in die Vrystaat.

Jou hospitaalleraar is Dr. Hennie Maartens, 08 33 88 00 47.

Kontak my gerus.

10

Hooray! Your file is uploaded and ready to be published.

Saved successfully!

Ooh no, something went wrong!