08.09.2013 Views

PREEK: ANDRIES CILLIERS: SONDAG 31 AUGUSTUS ... - Sonstraal

PREEK: ANDRIES CILLIERS: SONDAG 31 AUGUSTUS ... - Sonstraal

PREEK: ANDRIES CILLIERS: SONDAG 31 AUGUSTUS ... - Sonstraal

SHOW MORE
SHOW LESS

You also want an ePaper? Increase the reach of your titles

YUMPU automatically turns print PDFs into web optimized ePapers that Google loves.

PREEK: PREEK: ANDRIES ANDRIES CILLIERS: CILLIERS: SONDAG SONDAG 31 31 AUGUSTUS AUGUSTUS 2008

2008

Het jy al ooit gevoel: My godsdiens werk nie regtig vir my nie? Jy lees Bybel, maar die boek praat nie regtig

met jou nie. Jy bid, maar jou woorde val dood om jou voete, dit is maar net woorde. Jy kom kerk toe, sing, bid,

luister na die preek, gee jou dankoffer, maar jy gaan huis toe soos jy gekom het. Jy sit dalk met vrae, maar jou

godsdiens bied geen antwoorde nie. Of met probleme, maar daar kom geen uitkoms nie. Of met pyne, maar jy

vind in jou geloof geen troos nie. Ander mense getuig van hoe die Here vir hulle dit en dat doen, hoe geloof

hulle krag gee, hoe wonderlik hulle godsdiens vir hulle is. Maar vir jou, vir jou werk godsdiens nie.

Het jy al so gevoel? Dit is veral erg as jy deur die dieptes gaan. Jy het mooi dinge gehoor van hoe God juis die

dieptes gebruik om mense nader aan hom te trek. Jy hoor verhale van mense wat in die nood is, wat bid en dan

doen God iets wonderliks. God sorg dat hulle kinders werk kry. God maak ‘n sieke gesond. God stuur iemand

om ‘n tjek vir die presiese bedrag wat hulle nodig het, in die posbus te gooi. Wonderlik – vir hulle. Maar met

jou gebeur sulke goed nie. Jy wonder waar die fout lê. Lê dit by jou? Is jou geloof te min, jou godsdiens te

swak? Of lê die fout dalk by God? Is God dalk nie heeltemal so wonderlik soos wat die mense sê Hy is nie? Jy

kan selfs wonder: bestaan God ooit, en as Hy bestaan, gee Hy ooit om wat van jou word? Want vir jou werk dit

nie om God te dien nie.

Daar kan verskillende redes wees hoekom jy dit so ervaar. Baie keer kan ‘n mens dit regtig nie verklaar nie.

Maar dit kan tog wees dat jou godsdiens nie vir jou werk nie, bloot omdat jy verkeerd daarna kyk. Hoor mooi:

ek sê nie dit is altyd so nie, maar dit gebeur tog. Dit het met Israel gebeur. Israel was omtrent altyd van die

punt af in hulle godsdiens. En hulle het oor en oor gekla dat die storie nie werk soos dit moet nie, maar heel

dikwels was die fout maar by hulle self. In Jesaja 58 lees ons van een so ‘n klagte: “Waarom vas ons, maar U

sien dit nie, verootmoedig ons ons, maar U gee nie aandag daaraan nie?”

Kom ek vertel julle so ‘n bietjie van hulle storie in hierdie tyd, sodat ons kan sien wat hulle van God verwag het

– en hoekom hulle gevoel het: ons godsdiens werk nie. Hulle het pas teruggekeer uit ballingskap in Babel.

Hulle dra nog swaar aan die bagasie van verskriklike herinneringe. Die oorlog wat jare gelede soos ‘n

vernietigende watervloed oor hulle land gespoel het. Die val van Jerusalem. Die tempel, die huis van die Here,

wat soos ‘n kaia in ‘n krotbuurt afgebrand word totdat daar niks van oorbly nie. Vrouens wat verkrag word,

mense wat deurboor word, vermorsel word. Die lang pad Babel toe, aangejaag deur die vyand. Hoe hulle in

Babel die spot en vernedering moes verduur, totdat dit gevoel het hulle kan nie eers ‘n lied vir die Here meer

sing nie. Die droefheid wat jaar na jaar na jaar op hulle gedruk het. En toe, uiteindelik, die wonder: Die Here

laat hulle terugkeer na Jerusalem! Hulle is vry, hulle kan huis toe gaan, hulle kan die tempel van die Here, die

stad van God gaan herbou – want ‘n blink nuwe toekoms wag op hulle.

Vol geloof, vol verwagting kom hulle terug. Maar niks werk uit nie. Die lewe in die afgebrande stad is bitter,

bitter swaar. Dalk, sê hulle vir hulleself, dalk lê die fout by ons. Dalk is ons verhouding met die Here net nie

reg nie. Dalk moet ons meer bid, onsself verootmoedig voor God. Ja, dalk moet ons sommer vas ook daarby.

As dit voel asof jou godsdiens nie werk nie, dan is een moontlike oplossing om nog méér godsdienstig te raak.

Bly daglank sonder kos. Skeur jou klere. Gooi as op jou kop. Lê op die grond en huil. Verneder jou voor die

Here. En bid, bid, bid al meer totdat dit werk. Bid tot die Here, bewend soos ‘n biesie in die wind.

Dit moet tog werk. Maar dit werk nie. Israel doen sy vrome godsdienstige bes, maar dit werk nog steeds nie.

Jerusalem is nog steeds ‘n ashoop, die tempel is nog steeds nie herbou nie, die lewe is nog steeds bitter. Dalk,

dink hulle, lê die fout nie by ons nie. Dalk lê die fout by God. Daarom vra hulle: “Waarom vas ons, maar U

sien dit nie, verootmoedig ons ons, maar U gee nie aandag daaraan nie?” Hulle kom staan voor die Here en kla:

“Here, ons godsdiens werk nie vir ons nie!”

- 2 -

En die Here antwoord deur die profeet: “Julle sê julle godsdiens werk nie vir julle nie? Wel, dit werk ook nie

vir My nie!” Dis nogal iets om oor te dink, nie waar nie? Ek kan so besig wees om te wonder of my godsdiens

vir my werk, dat ek nooit vra of my godsdiens vir God werk nie! Jesaja 58 gee vir ons ‘n prentjie van ‘n

godsdiens wat nie vir God werk nie. En ek dink dit sal goed wees as ons daarna kyk. Dit is selfs moontlik dat

ons heel rustig kan voel ons godsdiens werk wel vir ons, en dan werk dit nog steeds nie vir God nie. So kom

ons vra: Hoe lyk ‘n godsdiens wat nie vir God werk nie? Wanneer kyk God na ons godsdiens en voel dat dit

vir Hom niks doen nie, dat Hy daar geen vreugde in vind nie?

Die basiese probleem tussen die Here en sy volk is dat hulle godsdiens eintlik berus op ‘n misverstand. Hulle

dink hulle weet wat die Here van hulle vra. Hulle probeer hulle bes om dit vir Hom te doen. Maar hulle

verstaan die Here heeltemal verkeerd. Wat hulle gee, is eintlik nie wat Hy vra nie. Jy kry dié soort misverstand

nogal dikwels in ‘n verhouding. ‘n Man, sê nou maar, werk hom oor ‘n mik om vir sy vrou “die beste” te gee:

genoeg geld, ‘n lekker huis, klere en juwele en oorsese reise. Maar hy mis die punt. Wat sy wil hê, is nie goed

nie, maar sy liefde, sy tyd, sy luister, sy vashou, sy hart. Of jy gaan kuier dalk by iemand, en sy skarrel rond om

vir jou die beste te gee, hardloop van spens na stoof na sitkamer en terug. Maar sy mis die punt. Jy soek nie

haar geskarrel nie, jy soek haar. Jy het nie ‘n kelner gesoek nie, jy het ‘n vriendin gesoek.

Op dieselfde manier sê die Here vir sy volk: julle mis die punt met julle vasdae. En daar is twee redes waarom

Hy dit sê. Die eerste is: dit gaan nie regtig vir julle om My nie. O, julle gee voor dat dit om My gaan, maar

julle lieg eintlik vir julleself en julle lieg vir My. Vers 2: “Hulle vra wel elke dag na my wil, asof hulle graag

wil weet wat Ek van hulle verwag. Hulle gee voor dat hulle ‘n nasie is wat doen wat reg is en hom aan die

bepalings van sy God hou. Hulle vra my wel na my beslissings asof hulle van my teenwoordigheid hou.” Dis

harde woorde, hierdie. Wat my die hardste slaan, is die laaste woorde: “asof hulle van my teenwoordigheid

hou.” Die Here sê: “Julle maak maar asof julle My by julle wil hê – maar eintlik soek julle My nie. Dit gaan

glad nie vir julle om My nie.”

Waarom gaan dit dan vir die volk? Dit gaan nie om God nie, maar om wat hulle by God kan kry. Ons ken

almal sulke verhoudings. Ek het dalk ‘n vriendskap met jou – maar dit gaan nie vir my om jou nie, dit gaan om

wat ek uit jou wil kry. En kry ek dit nie, kla ek ook: “Dit werk nie vir my nie!” Maar jy kan met reg voel dat

dit ook nie vir jou werk nie – want ek mis die punt van vriendskap. Vriendskap gaan nie om wat ek by jou kan

kry nie; dit gaan daarom dat ek vir jou omgee, dat jy vir kosbaar is. Op dieselfde manier gaan dit in geloof nie

veral om dit wat ek uit God kan kry nie – dit gaan om God; dit gaan daarom dat ek van God se teenwoordigheid

hou, dat ek bly is omdat God in my lewe is. Ek bid nie in die eerste plek om resultate te kry nie, maar om met

God te gesels.

Maar hoe weet die Here dat dit vir hulle net om hulleself gaan, om wat hulle kan kry en nie om God nie? Die

antwoord is eenvoudig: Hy weet dit uit die manier waarop hulle teenoor mekaar optree. Dit is die tweede rede

waarom God sê die volk mis die punt met hulle vasdae: “Dit is omdat julle op die vasdae doen wat julle wil...”

(vers 3). Hulle kom vra kastig na die Here se wil – maar hulle doen net wat hulle wil. Dit kry jy ook nogal

dikwels: dat ons in ons godsdiens vreeslik kan wroeg oor die wil van die Here. Dikwels vra ons dit so: “Hoe

weet ek wat die Here se wil vir my lewe is?” Ons dink die Here se wil is die een of ander geheime meesterplan

– en ons wens ons het ‘n bietjie meer insig gehad in daardie plan. Maar intussen het die Here vir ons gesê wat

sy wil is. Sy wil is dat ons menslik en liefdevol met mekaar moet saamleef. En as ons wroeg oor wat sy wil is,

maar intussen maak ons met mekaar nes ons wil, dan sê die Here: “Julle godsdiens werk nie vir My nie.”

“Dit is omdat julle op die vasdae doen wat julle wil, en die mense wat vir julle werk, nog harder laat werk. Julle

vasdae loop uit op twis en rusie, julle dam mekaar met die vuis by. Julle kan nie op hierdie manier vas en dan

verwag dat julle gebed verhoor sal word in die hemel nie.” Wanneer God vir ons eintlik onbelangrik word in

ons godsdiens, word ons vir mekaar ook onbelangrik. Wanneer ek selfsugtig is in my godsdiens, dan word ek

ook selfsugtig in my menseverhoudings. Omdat ek nie vreugde vind in God se nabyheid nie, vind ek ook nie

vreugde in die nabyheid van my medegelowiges nie. Want alles gaan maar net om my. En ek reageer met

bitterheid en teleurstelling, dalk selfs met woede en geweld, as mense of God nie na my smaak optree nie.

- 3 -

‘n Godsdiens wat selfsugtig is, ‘n godsdiens wat my onmenslik laat optree, werk dus nie vir God nie. Hoe lyk

die godsdiens wat vir Hom werk dan? Dit sê Hy in vers 6-7: “Is die vas wat Ek wil hê, nie dit nie: om dié wat

onregverdig gevange gehou word, te bevry, om die juk wat op mense druk, af te haal, om verdruktes vry te

maak, om elke juk te breek? Is dit nie dat jy vir dié wat honger is, van jou brood gee nie, dat jy aan die armes

en die dakloses ‘n blyplek gee nie, dat wanneer jy iemand sonder klere sien, jy vir hom klere gee nie, dat jy jou

medemens nie aan sy lot oorlaat nie?” As jou godsdiens nie meer vir jou gaan om wat jy uit God kan kry nie,

maar om wat jy vir God se mense kan gee – dán, sê die Here, sal jou godsdiens werk, vir jou en vir Hom. “Dan

sal die lig vir jou deurbreek soos die rooidag... Dan sal jy roep en die Here sal antwoord, jy sal om hulp roep, en

die Here sal sê: ‘Hier is Ek!’ ...as jy jou wy aan dié wat honger het, as jy voorsien aan dié wat in nood is, sal die

lig vir jou skyn wanneer dit donker is.”

Ek dink dit is baie duidelike taal. Godsdiens gaan om gee, nie om kry nie. As jy het, en ander het nie, dan moet

jy gee sodat hulle ook kan hê. Moenie in jou godsdiens fokus op wat jy nie het nie en wat jy nog wil kry nie.

Moenie fokus op jou behoeftes en dan soek na maniere waarop God in jou behoeftes voorsien nie. Fokus op dit

waarmee God jou reeds geseën het en kyk waar daar mense is vir wie jy tot seën kan wees.

Dit is die betekenis van vandag se tema: “Kies om gasvry te lewe.” Gasvryheid is brood vir die honger mens.

Dit is om plek te maak vir die mens wat nie plek het nie. Dit is ‘n warm baadjie vir iemand wat koudkry in

flenterklere. Gasvryheid is om te gee – en nie net om jou goed te gee nie, maar om jouself te gee: “as jy jou wy

aan dié wat honger is.” Egte gasvryheid is nie ‘n sware plig wat jy teensinnig nakom omdat God dit nou maar

ten ene male van jou vra nie. Om vir ‘n honger mens te sê: “Ja, ja, vat tog nou maar ‘n stukkie brood!” of vir ‘n

mens sonder klere: “Ag, jy moet seker maar hierdie ou baadjie kry!” – dis nie gasvryheid nie. Gasvryheid is om

te gee omdat jy wil, om plek te maak in jou huis omdat daar plek is in jou hart, om jouself te wy aan mense in

nood. Daarom sê Romeine 12:12: “Help die medegelowiges in hulle nood en lê julle toe op gasvryheid.”

‘n Godsdiens wat werk is ‘n godsdiens waarin ek nie bakhand staan en wag vir wat God gee nie, maar waarin ek

oophand en oophart uitdeel wat God reeds vir my gegee het. Dan, sê Jesaja 58:9, sal ons om hulp roep en sal

die Here antwoord: “Hier is Ek!” Let op wat die Here sê. Nié: “Wat kan Ek vir jou doen?” nie, maar: “Hier is

Ek!” In gelowige gasvryheid ontdek ons die teenwoordigheid van die Here. Ons beleef God se nabyheid nie in

wat ons kry nie, maar in wat ons deel met mense in nood. Ek glo dis presies wat Jesus ook vir ons duidelik

maak in Matteus 25: “Ek was honger, en julle het My iets gegee om te eet; Ek was dors, en julle het My iets

gegee om te drink; Ek was ‘n vreemdeling, en julle het My gehuisves; Ek was sonder klere, en julle met My

klere gegee...” In gasvryheid ontmoet ons die Here, gaan die lig van sy nabyheid en liefde op in ons lewens.

Soms, as ‘n mens die Bybel lees, voel jy om te sê: “Ek verstaan nie mooi wat van my gevra word nie.” Maar

ander kere, dink ek, voel jy: “Ek verstaan presies wat van my gevra word, maar ek sien nie kans nie.” Jy voel

‘n weerstand in jou. Jy begin verskonings uitdink, vertel vir jouself hoe mense misbruik maak as jy vir hulle

gee. Ek dink elkeen van ons het ‘n storie oor die bedelaar wat die brood wat ons gegee het, weggegooi het; die

ou vir wie ons geld gegee het wat drank gekoop het. Om te kies om gasvry te wees, is om te kies om weerloos

te wees, om dalk misbruik te word, dit weet ons mos. Dit is mooi om te lees dat die Here sê dis beter om te gee

as om te ontvang, maar in ons harte glo ons dit maar swaar.

Maar kom ons stel ons oop vir die Woord. Die Woord sê: wie suinig leef, leef in die donker; wie net wil kry, se

godsdiens kan nie werk nie omdat dit stry teen die wil van God; wie alles vir homself hou, is die armste van alle

mense. Die Woord sê: wie gasvry is, leef in die lig; wie gee omdat God gegee het, se godsdiens werk omdat dit

juis God se wil vir ons is; wie deel wat hy ontvang het, is die rykste van alle mense. Kom ons stel ons oop vir

die Woord, en ons gaan leef dit, hoe sukkelend en onvolmaak ook al. Ons kies om in gasvryheid te leef juis

omdat ons kies om in God se liefdevolle nabyheid te leef. AMEN

Hooray! Your file is uploaded and ready to be published.

Saved successfully!

Ooh no, something went wrong!