04.05.2013 Views

BOTSWANA & CAPRIVI TOER VERSLAG

BOTSWANA & CAPRIVI TOER VERSLAG

BOTSWANA & CAPRIVI TOER VERSLAG

SHOW MORE
SHOW LESS

Create successful ePaper yourself

Turn your PDF publications into a flip-book with our unique Google optimized e-Paper software.

BOTSWANA & CAPRIVI TOER VERSLAG

DAG 1 (26 DESEMBER 2009)

Die eerste dag van ons vakansie het aangebreek. Ons (Pieter & Gerida) ontmoet vir Derick

& Joey van Harrsimith om 06h00 by die Petroport op die N1 Noord net buite Pretoria. Na ‘n

vinnige oor en weer groetery vat ons die pad Mokopane (Potgietersrus) toe. Op Mokopane

maak ons vol brandstof en eet ontbyt by die Wimpy. ‘n Wimpy ontbyt het al amper tradisie

op al ons vakansies geword.

Ons volgende stop was die Martinsdrift grenspos. Die SAP gaan ons voertuig dokumente na

en sonder enige onnodige vertragings is formaliteite afgehandel en ons beweeg deur na die

Botswana kant van die grens. Hier betaal ons ‘n “Road Safety Levy) van P 20.00 per

voertuig en sleepwa, P 50.00 “MV Insurance” en P 180.00 vir ‘n “Road Permit”. Ons het

dubbel toegang permitte gekoop omdat ons Botswana later sou verlaat Caprivi toe en weer

via Botswana sou terugkeer. Formaliteite hier was redelik moeitevry afgehandel behalwe

vir die lang toestaan om vir al die permitte te betaal.

Ons volgende stop was Palapye waar ons weer met brandstof volgemaak het. P 5.66 per

liter vir loodvrye petrol.

Later die dag arriveer ons by die Cresta Marang Hotel in Francistown waar ons die aand in

hulle kampterrein sou oorstaan. Die kampfooie hier is P 58.00 p.p.p.n. en elektrisiteit is ‘n

addisionele P 25.00 per nag. Die kampterein is agter die hotel op die wal van die Tati Rivier

gelee. Hier moet jy kies tussen die beste staanplek of krag. Goeie staanplek, te ver van die

kragpunt af. Ons het die beter staanplek gekies.

(Pieter en Gerida) (Derick en Joey)

(Kampeerterrein by die Cresta Marang Hotel)

Dit was stil en rustig in die kamp. ‘n Paar jongmense wat geraas en musiek gemaak het is

baie vinnig deur Bestuur stilgemaak. Ons het selfs ons eie wag gehad wat ons heelnag met

sy hond opgepas het teen geen addisionele koste nie. Hierdie was vir my ‘n eerste in

Botswana. Op navraag het hulle verduidelik dat hulle soms probleme ervaar met werklose

Zimbabwiers wat kampeerders beroof.

Afstand van Pretoria tot by die Cresta Marang Hotel - 669 km.

DAG 2 (27 DESEMBER 2009)

Die oggend het ons ‘n paar laaste items in Francistown aangekoop, brandstof volgemaak en

toe vertrek na die Nata Bird Sanctury waar ons die aand sou deurbring. Ons het in die

Mowana Kamp in die Sanctury gekamp. Kampeerkoste beloop P 42.50 p.p.p.n.

Nata Bird Sanctury is nie ver (174 km) van Francistown af nie en ons was vroegdag al daar.

Ons het dit spesifiek so beplan want ons wou voor donker ‘n draai by die Sowa Pan gaan

maak om te kyk of daar Flaminke is. Die dame by ontvangs het gesê “there might be a

few, but I am not to sure”. Ons het nogtans besluit om die P 55.00 p.p te betaal om die

panne te mag besoek en is toe soontoe.

(Oppad na die Sowa Pan)

By die eerste pannetjie met water tref ons toe inderdaad ‘n “few” Flaminke en ander

watervoëls aan. Maar nie die bekende pienk flaminke wat ons graag sou wou sien nie. Ons

sou later in een van ons boeke oor voëls lees dat die wit en pienk flaminke nie met mekaar

meng nie.

(‘n paar flaminke in ‘n klein pannetjie op pad na die hoofpan)

Groot was die opgewondenheid toe ons by die groter Sowa Pan se “Bird Hide” aankom en

dit is pienk Flaminke so ver as wat die oog kon sien.

(Pienk flaminke op die Sowa Pan)

Dit het die stop en oorslaap by die Nata Bird Sanctury oor en oor die moeite werd gemaak.

Slaap maar lig by die Bird Sanctury. Hulle het twee wagte voorsien wat heelnag by ons

kampplek wag gehou het. Daar word skynbaar gereeld hier ingebreek, self voertuig

vensters gebreek om dit wat binne-in is by te kom.

DAG 3 & 4(28 & 29 DESEMBER 2009)

Ons het vroeg die oggend (05h00) opgestaan en begin oppak. Vandag se roete sou ons vat

tot in Kasane, en vandaar na Ihaha in die Chobe Nationale Park. Ons het dan ook verskeie

berigte ontvang (gelees) oor die swak toestand van die pad tussen Nata en Kasane en het

ons reggemaak vir ‘n lang rit. Die pad was toe nie so sleg as wat ons verwag het nie. Daar

was op verskeie plekke padwerke aan die gang en meeste van die verwagte slaggate was

herstel.

(pad tussen Nata en Kasane)

Die aanvanklike plan was om die voertuie en jerry kanne in Kasane vol petrol te maak. Ons

volgende brandstof punt was Katimo Mulilo, en ons wou nog bietjie in die Chobe gaan

rondry ook. Nie een van die vulstasies in en buite Kasane het petrol hehad nie. Die

vragmotor wat voorraad moes bring was laat en hulle sou eers laat die middag of vroeg die

volgende oggend na verwagting eers weer petrol hê. Dit het beteken ons moes Ihaha toe,

kamp opslaan, en die volgende oggend terug Kasane toe vir petrol.

Dit is 327km van Nata Bird Sanctury tot in Kasane en vandaar ‘n verdere 38km tot by die

Ihaha Kampterrein in die Chobe National Park.

Kampeerkoste by Ihaha beloop P 30.00 p.p.p.n plus die parkfooi van P 120.00 p.p.p.n.

Gedurende die nag het dit gereën en toe ons die oggend opstaan was die wêreld toegetrek

van die mis. ‘n Paar rooibokkies het langs die kamp in die gras gewei.

(Rooibokkies in die mis vroegoggend by Ihaha)

Ons het die dag toe so beplan dat ons ‘n sirkel roete deur die Chobe gery het wat ‘n petrol

stop in Kasane ingesluit het. Die Chobe se wildlewe het nie terleur gestel nie en ons het

heelwat wild te siene gekry.

Die voëllewe in die Chobe is ook uitstekend, en ek gaan nie eers probeer om al die fotos

hier te deel nie.

En dan het ons ook met nog elke besoek die mooiste sons ondergange oor die Chobe Rivier

beleef. Wat kan nou lekerder wees om na die ondergaande son te sit en kyk en na die diere

geluide te luister tewyl jy wag vir die ketel om te kook.

Die kampplekke by Ihaha is ongelyk en baie klipperig. ‘n Nadeel vir die wat met tente op

die grond staan. Pragtige maar verwaarlooste ablusie geriewe.

(Sonsondergang oor die Chobe)

DAG 5 (30 DESEMBER 2009)

Vanoggend is daar groot opgewondenheid in die kamp. Ons vertrek vandag uit Ihaha en

gaan by Ngoma Bridge oor die grens die Caprivi binne. Ons was al verskeie kere in

Botswana maar hierdie sal ons eerste besoek aan die Caprivi wees. Ons reis sal ons vat tot

by Katimo Mulilo, vandaar tot by Kongola waar ons afdraai Mudumo toe. Ons beplan om by

een van die drie staanplekke van Nakatwa kamp op te slaan.

Sake by die Ngoma Grenspos (Botswana en Namibia kante) verloop glad en ons is sonder

enige onnodige vertragings deur die grens en oppad Katimo toe. Die nodige “Cross Border

Charge” permitte is nie by die Namibia grenspos beskikbaar nie. Ons sou die in Katimo

moes gaan aankoop. Die koste beloop N$ 180.00 per voertuig en N$ 115.00 per sleepwa.

In Katimo Mulilo het ons voorrade aangevul en brandstof ingegooi. Ons sou vir 4 nagte in

Mudumo kamp waar ons ten volle selfversorgend moes wees. Petrol in Namibia was N$

7.28 per liter.

In Namibia kan jy met N$ of met R betaal. Die geldeenhede se waarde is dieselfde.

Die afstand van Ihaha tot by die Mudumo Wildtuin in die Caprivi (via Katimo Mulilo) -

221km.

(Koffie breek op pad tussen Katimu Mulilo en Kongola)

Ons het vir ‘n wyle langs die pad gestop tussen Katimu Mulilo en Kongola om bene te rek.

Die volgende stop was Kongola waar ons petrol ingegooi en water kanne volgemaak het.

Ons het hier water getap omdat ons onseker was oor die beskikbaarheid van water in

Mudumo. Geweet daar is nie water by die kampplekke nie maar was nie seker of daar

water by die kantoor beskikbaar was nie.

Daar is vars water beskikbaar uit ‘n tenk by die Nakatwa kantoor.

(1. Ek besig om water tanks vol te maak. 2. Toilet geriewe is gratis by Kongola.

3. Dis hoe die toilet lyk. 4. Joey staan en wag terwyl ons water tap.)

Ons het hier afgedraai van die teerpad af en die grondpad gevat Mudumo toe. Dit is ‘n

goeie grondpad maar lyk of dit nogal lekker glad kan word as dit nat is. Sonder teenspoed

by Mudumo aangekom en by die Nakatwa Kantoor geraporteer.

(Pad van Kongalo na Nakatwa) (Ingang na Mudumo)

(1. Nakatwa Kantoor. 2. Sitplek vir besoekers)

Ons het nie vooraf kampeerplek by Nakatwa bespreek nie. Verskeie pogings om met die

amptenary in beheer kontak te maak was vrugteloos. Met ons aankoms het die bestuurder

(Fabian) ons meegedeel dat hy ons net vir 1 nag en nie 4 nagte nie kan akkomodeer. By

verdere navraag en nadat ons saam met hom deur sy besprekingsboek gekyk het, blyk dit

toe dat hy ons die eerste nag in Kampplek no 3 kan akkomodeer en dan vir die verdere

nagte (2 tot 3) in kampplek no 2. Ons het toe bespreek en betaal vir kampplek no 3 en

moes toe die volgende dag na kampplek no 2 verskuif en weer by Fabian aandoen om ons

verblyf permit te verleng. Dit was bietjie bo sy vuurmaakplek om alles in een slag te doen.

Ons het by Fabian ‘n selfoon nommer gekry waar ons hom in die toekoms kan kontak sou

ons weer daar wou gaan kamp.

Kampeer tariewe is N$ 30.00 p.p.p.n. en ‘n voertuigpermit teen N$ 20.00 is nodig vir die

duur van die verblyf. Die enigste geriewe by die Kampeerterrein is ‘n longdrop toilet se

entjie se stap die bos in. Ons het nie hiervan gebruik gemaak nie, eerder die grafie metode

gebruik.

(Bos toilet)

Daar is net 3 Kampeerplekkke in Mudumo en na my mening is Kampplek no 3 die een met

die mooiste uitsig. Hier is ‘n paar fotos.

DAG 6 (31 DESEMBER 2009)

Die tweede dag by Nakatwa moes ons na kamplek no 2 verskuif. Kampplek 2 is ook op die

wal van die Kwando rivier.

Nadat ons verskuif het, het ons by die Nakatwa Kantoor gaan raporteer en bevestig dat ons

vir 3 aande daar gaan staan. Toe het ons ‘n draai by Hippo Pool gaan maak en ‘n paar

ander paadjies ook gery. Die veld was baie ruig en die paadjies (twee spoor “tracks”) baie

nat. Het gevolglik nie juis wild gesien nie.

Die aand het ons 2009 vaarwel toegeroep op die walle van die Kwando Rivier.

DAG 7 (1 JANUARIE 2010)

(Oujaarsdag aand op die walle van die Kwando Rivier)

Ons het besluit ons gaan vandag die pad aandurf Mamili toe ten spyte daarvan dat ons uit

verkeie oorde verneem het dat Mamili totaal onder water en ontoeganklik is. Ons wou dit s

self gaan beleef. Min het ons geweet wat ‘n avontuurlike dag vir ons voorlê.

Nie te ver van Mudumo af nie, draai jy van die harde grondpad af Mamili toe. Mamili staan

ook bekend as die Nkasa Rupara National Park.

(Afdraai na Mamili)

‘n Ent van die afdraai af nie kom ons die eerste van 4 hout brûe tee wat ons moet oor. Die

een het stewig gelyk en behalwe dat ek amper op ‘n kobra getrap het, ons is maklik oor.

Volgens die plaaslike inwoners is hulle baie bekend met die kobra, glo die gees van ‘n

afgestorwe voorvader. Baie vriendelik, sal nie pik nie. Ek was egter nie bereid om te toets

of dit waar is nie.

(Eerste Brug)

Die tweede brug was egter ‘n perd van ‘n ander kleur. Die plaaslike inwoners (wat ook

tolgeld vorder vir gebruik van die brug) was besig om ‘n nuwe brug te bou en die ou brug is

nie meer instand gehou nie. Die gevolg was dat ons hulle eers moes help om ‘n paar pale

en balke in plek te kry voordat ons kon probeer oor te gaan. Hierdie was geen maklike taak

nie. Die brug was onder water en die houtpale seepglad. Die voertuie het ook gesukkel

met vastrap op die glade hout pale. Tussen die riete en waterlelies het krokodile gelê en die

bedrywighede fyn dopgehou. Gerida is saam met een van die plaaslike “tollenaars” met ‘n

kano oor om fotos van die ander kant te neem soos was ons die brug oorsteek.

(Waarskuwing dat jy die brug op eie risiko gebruik, brug is totaal onder die watervlak)

(Hier gaan ek eerste oor gevolg deur Derick)

Aan die ander kant van die brug het ons vir Piet Hein en sy vriendin (Met ‘n gehuurde

Toyota Hi-Lux) van Nederland raakgeloop. Hulle is vroeër die oggend oor die brug en het

tot by die 3de brug gevorder. Hulle het egter nie kans gesien om die 3de brug op hul eie

oor te steek nie alhoewel die brug in ‘n beter toestand blyk te gewees het. Hulle het gevra

of hulle maar by ons kan aansluit en ons is toe met hulle saam na die 3de brug toe. Nadat

ons drie of vier balke wat effens uit plek was reggeskuif het, het ons die brug maklik

oorgesteek.

(1. Derick op die 3de brug. 2. Piet Hein op die 3de brug)

Teen die tyd was ons al heel vaardig en die laaste (4de) brug op ons roete was soos hulle

sê, “’n walk in the park”.

(Pieter op die 4de brug)

Uiteindelik het ons Mamili se hek bereik. En dit hoe ver ons sou vorder vir die dag. Mamili

was totaal onder water en dit sou nie moontlik wees om enigsins verder te vorder nie. Die

paadjie na die “Permit Office” kon nie eers gery word nie, dit was net water en swart turf

modder.

(Die bord by Mamili se hek)

(Die bordjie dui die waterweg in die rigting van die “Permit Office” aan)

Hiervandaan is dit toe weer al die pad terug, brug 4, brug 3, brug 2, brug ????. Hier het

ons weer ‘n probleem. Een van die balke van brug 2 breek onder die gewig van my Land

Rover, en in die proses gly dit amper van die brug af. Eers moes ons die Land Rover herwin

sonder dat dit van die brug afval, en toe die brug herstel. Met ‘n laaaang tou het Derick my

gehak en baie stadig terug gesleep. Die plaaslike Tollenaars kom help weer en ry met ‘n

kano balke en sandsakke aan. Nadat die brug herstel is, is al die voertuie suksesvol oor na

veilige grond op die oorkantse oewer. Gerida het weer die petalje van die oorkantse oewer

gade geslaan en fotos geneem.

(1. Hier is ons besig om die brug te herstel. 2. Derick besig om die brug oor te steek)

(Derick, die 3 Tollenaars, Pieter en Piet nadat ons die brug suksesvol die tweede keer

oorgesteek het oppad terug Mudumo toe.)

Ons vriende van Nederland het hiervandaan hul eie koers gegaan en ons is terug Mudumo

toe.

DAG 8 (2 JANUARIE 2010)

Dit was ons laaste dag in Mudumo en ons het bietjie Olifant “Tracking” gaan doen.

Ons het ‘n redelike groot trop olifante met heelwat kleintjies opgespoor en hulle vir lank

gevolg. Daarna was dit terug kamp toe. Dit was ons laaste aand en ons wou vroeg gaan

inkruip.

As jy hou van boskamp (absoluut geen geriewe nie, net ‘n plekkie in die skadu waar jy jou

tent mag opslaan) is Mudumo die plek. Behalwe vir die natuur se geluide is dit doodstil.

DAG 9 (3 JANUARIE 2010)

Vandag was dit weer kamp opslaan en pad vat. Ons volgende stop is die Popa Rapids,

255km van Mudumo af. Hier gaan ons by die Goabaca Gemeenskapskamp kampeer.

Kampplek no 1 as dit moontlik is op Pieter Theron se aanbeveling. Kampplek no 1 was toe

beskikbaar. Die koste beloop N$ 80.00 p.p.p.n.

(foto geneem van die uitkyk dek by Goabaca kampplek no 1)

Kampplek no 1 blyk toe ‘n uitstekende keuse te wees. Daar is ‘n platvorm met ‘n pragtige

uitsig oor die Popa Rapids. Die platvorm is redelik groot en ek en Gerida slaan toe ons tent

bo-op die platvorm op.

(Goabaca kampplek no 1)

Hierdie is ‘n kampplek wat ek beslis kan aanbeveel. Gelyke grond as jy wil tent opslaan.

Plek waar jy op die grond kan vuurmaak. ‘n Dek wat oor die stroomversnellings uitkyk

(hiersonder kyk jy net teen die papyrus vas). ‘n Opwasplek met wasbakke en ‘n tafel onder

‘n rietjiesdak. ‘n Stort en toilet in ‘n afsonderlike rietjies geboudtjie waar jy in ‘n donkie

vuurmaak vir warm water.

DAG 10 (4 JANUARIE 2010)

Dag 10, en dit was weer tyd om aan te beweeg. Dit was nou terug Botswana toe via the

Muhembo Grenspos. By Shakawe voorraad aanvul en dan na Tsodilo Hills waar ons vir 2

aande sou oorstaan. ‘n Totale afstand van 235km.

Die pad van Divundi na die grenspos neem jou deur die Mahango Game Reserve. As jy

direk grenspos toe ry en nie van die hoofpad afwyk nie, is daar geen koste aan verbonde

nie. As jy egter wil afwyk en die pad al langs die rivier langs ry of van die ander paadjies

moet jy ‘n toegangsfooi betaal.

Kampplek by Tsodilo Hills is gratis. As jy die Boesman tekeninge wil gaan kyk moet jy net

vir die gids betaal. Dit kos P 50.00. Dit is beslis die moeite (en geld) werd. Maar maak jou

reg vir baie warm kry. Dit word m#@r warm tussen die koppies en jy is heeltyd besig om

op en af te klim en klouter.

(Kampplek by Tsodilo Hills)

Daar is ook ‘n klein museum by Tsodilo wat die geskiedenis van die area uitbeeld. Nogal

baie interesant.

DAG 11 (5 JANUARIE 2010)

Pieter en Derick is vroeg oggend met ‘n gids weg die Koppies in om boesman tekeninge te

gaan kyk. Gerida en Joey vat die dag af en bly by die kamp.

Seker van die bekendste tekeninge by Tsodilo is die “Van der Post Paneel”, die “dancing

penises” en die walvisse.

(Tsodilo – Female Hill) (Walvisse)

(Van der Post Paneel) (Dancing Penises)

Diep agter in een van die vele holkranse wat deur die gids aan ons uitgewys word is ‘n

skeur wat na ‘n grot lei wat glo deur Voorvader Geeste bewoon word, aldus ons gids.

Derick gaan die grot binne en neem ‘n foto. Toe die kamera se flits afgaan storm die gids

met ‘n verwilderde uitdrukking op sy gesig by die holkrans uit. Derick het volgens hom nou

die geeste wakker gemaak en dit voorspel niks goeds nie.

Later die dag toe ons van ‘n kort rit om die koppe terugkom staan daar ‘n boerbok voor

Derick en Joey se tent en wag. En die hele tyd wat ons daar gekamp het, het die bok al

agter Derick aangeloop. Tot by die ablusie se deur vir hom staan en wag as hy daar ingaan.

Ons vermoed dit moet die gees wees wat hy wakker gemaak het wat hom nou so agtervolg

in die vorm van ‘n bok. Daardie nag het die bok die heel nag voor Derick se tent geslaap.

Die ablusie geriewe by Tsodilo is in ‘n redelike toestand. Die enigste negatiewe hier is die

plaaslike bevolking wat deur die dag van die geriewe gebruik maak en dit dan vuil agterlaat.

Hulle was ook wasgoed hier en hang dit oral deur die kamp op om droog te word. Ietwat

van ‘n seer oog.

DAG 12 (6 JANUARIE 2010)

Vandag sou weer ‘n lang dag op die pad wees. Ons roete neem ons van Tsodilo Hills via

Lake Ngami na Maun. By Maun gaan ons voorraad aanvul en dan daarvandaan na Bains se

Boababs in die Nxai Nxai Pan Reservaat.

Ek praat onder korreksie, maar as ek dit reg het is dit die eerste keer in 30 jaar dat Lake

Ngami weer water het. Die pad deur die meer, normaalweg droog, is vir lang ente onder

water. Dit is ook hier dat my hart amper gaan staan toe Gerida langs my aan die gille

gaan. Sy het twee pelikane (van ‘n bedreigde sort) in ‘n boom sien sit.

(Pelikane in ‘n boom by Lake Ngami)

(Die pad deur Lake Ngami)

Tussen Maun en die Nxai Nxai Panne word Derick op die A3 by ‘n Bek en Seerklou hek

gestop omdat hy rou wors in sy vrieskas het. Dis net daar wat hy sy gasbraaier afhaal, en

die wors braai in plaas daarvan dat hy toelaat dat hulle dit konfiskeer. Toe die wors gaar

genoeg na die amptenare se sin is laat hulle hom toe om verder te ry.

By die hek van die Nxai Nxai Panne aangekom word ons ingelig dat dit onmoontlik is om tot

by Bains se Boababs te ry omdat dit baie nat is, en die panne vol water is. Na

onderhandeling kry ons toe kampplek by “South Camp” in die konsessie gebied. Hierdie is

‘n baie skaduryke kampplek met netjiese (nut geboude) ablusie geriewe.

(kampeer en ablusie geriewe by South Camp)

Van Tsodilo Hills is dit 233km tot by Lake Ngami, Maun is 104km vandaar en dit is ‘n

verdere 168km tot by South kamp.

Kampeerkoste hier beloop P 30.00 p.p.p.n. plus die daaglikse toegangsfooi tot die park van

P 120.00 p.p.p.n.

DAG 13 (7 JANUARIE 2010)

Vandag gaan ons Bains se Boababs kyk, nat panne of te nie. Dis immers hoekom ons

hierheen gekom het, om die Boababs te sien. Dis nou eers 18km terug in die rigting van

die hek met ‘n diep sand pad tot by die afdraai en daarvandaan 12km tot by Baines.

Ja, en soos hulle gesê het by die hek gister, die panne het water en is nat, maar nie te nat

nie, en met ‘n ompad hier en daar al om die nat panne kom ons tog tot by Bains se

Baobabs. En wat ‘n pragtige gesig is dit nie. Deur en deur die moeite werk om dit te kom

kyk.

Hiervandaan is ons terug kamp toe. Ek wat ‘n gesig wag daar op ons. Die kaal vlaktes

noord van die kampplek, waar daar absoluut niks was met ons aankoms gister of toe ons

vanoggend vertrek het nie, is oortrek van Zebra’s so ver as die oog kan sien. Daar is

honderde van hulle. Later die middag het ons ‘n draai deur die area gaan ry en so ver as

wat jy kon sien was net Zebras.

Later die aand, terug by ons kampplek kon ons leeus hoor brul in die verte en daar was ‘n

redelike geskarrel tussen die Zebras. En glo dit of nie, die volgende oggend was daar nie ‘n

Zebra te sien nie. Kompleet asof hulle nooit daar was nie.

(Zebras noord van South Camp in die Nxai Nxai Panne)

Later die aand, toe ons almal reeds ingekruip het word ek en Gerida wakker van beweging

reg langs ons tent. Was toe ‘n alleenloper olifant, wat ons vroeër die middag in die kamp

raakgeloop het na ons zebra rit, wat al om ons tent loop en dit van bo na onder met sy

slurp ondersoek. Nogal redelik intimiderend.

As dit nie was dat ons vakansie einde se kant toe gestaan het nie sou ons graag meer tyd

hier wou spandeer het.

DAG 14 (8 JANUARIE 2010)

Hiedie is die laaste dag van ons vakansie. Vandag vertrek ons vanuit die Nxai Nxai panne

en slaap vannaand by die Khama Rhino Sanctury (499km verder) oor onderweg huistoe. By

Khama aangekom besluit ons eenparig ons gaan nie tent opslaan nie, maar eerder ‘n chalet

huur (P 640.00 vir ‘n 4 bed) vir ons laaste aand. Nadat ons ingeboek en die chalet gekry

het, het ons ‘n draai deur die sanctuary gery en by ‘n watergat renosters (ook ‘n ma met ‘n

kleintjie) gesien.

Wat ‘n wonderlike manier om ons vakansie mee aft e sluit.

DAG 15 (9 JANUARIE 2010)

Die laaste dag. Vandag word die lang pad (568km) huistoe aangepak.

Sal ons dit weer doen. Beslis. Ons is al reeds besig om te beplan aan ons volgende besoek

aan die Caprivi, en Mudumo is heel bo aan ons lysie van plekke wat besoek moet word.

Ons gaan die roete net effens aanpas sodat ons ‘n besoek aan die Khaudom en die Sentraal

Kalahari kan insluit.

Groete

Pieter en Gerida Booyens van Pretoria

Derick en Joey Pieterse van Harrismith

Hooray! Your file is uploaded and ready to be published.

Saved successfully!

Ooh no, something went wrong!