You also want an ePaper? Increase the reach of your titles
YUMPU automatically turns print PDFs into web optimized ePapers that Google loves.
GRASnuus Oktober 2007

“Hennie” sê ek op dag een

vir hom, “my hare is `n

gewigtige aangeleentheid.

Letterlik. Hulle loop lê

onder hulle eie gewig. As

jy hulle te kort sny, staan

hulle regop. My vriend

Vossie sê dan lyk ek of my

hare geskrik het vir my kop. Jy moet daardie fyn lyn

tussen regop staan en lê kry, en jy moet dit onthou as

ek weer kom.”

Hennie aanvaar die uitdaging. Hy knip-knip hier en knip-

knip daar.

`n Vrou kom sit op die stoel langsaan. “Kan ek julle

voorstel?” sê-vra Hennie. Hy wag nie vir `n antwoord

nie en voor ek my kom kry is ek voorgestel aan mevrou

So-en So van `n plaas iewers in die Ceres-Karoo. Hennie

en mevrou S-&-S gesels land en sand. Sy vertel hoe

sukkel hulle op die plaas met die kragopwekker en dat

hulle sonpanele wil opsit maar dis so duur. Ek hoor

myself vertel van die nuwe Alberts sonpanele wat

binnekort op die mark kom en omtrent die helfte

goedkoper gaan wees.

Dit is onwerklik. Hier sit ek sowaar in `n unisex haar-

salon en praat met `n wildvreemde vrou oor die nuutste

tegnologie in sonpanele. Ek skud my kop figuurlik in

ongeloof. Is dit hoekom vroue so graag haarsalon toe

gaan, hierdie gemaklikheid en openheid? En hoe ver

gaan dit? Wat is die dieper betekenis? Lei die afsny van

hare dalk tot, ahum, ontboeseming, `n soort van bieg?

Dan slaan Hennie oor na `n nuwe onderwerp. “Maggies”

sê hy, “ons het darem `n fantastiese taal. `n Mens kan

dinge so raak sê soos in geen ander taal nie. Ek sien nou

net mevrou Hoogmoed hier in die straat verbyry, toe

2

dink ek aan die uitdrukking wat my ouma altyd gebruik

het. Sy sou nou gesê het dis `n pitjiesrige vrou daai.”

“Waar op aarde kom dit vandaan ?” vra mevrou S-&-S.

“Vyekonfyt” sê Hennie. “Dis wat ék dink. Die oumense

was baie lief vir vyekonfyt. Ek onthou nog daai konfyt-

kokery. Die vye moes geprik word en oornag in sout-

water lê. Dan kook Ouma dit in `n groot erdekastrol,

gelyke dele vye en suiker en niks water nie. Sy het `n

geheime resep gehad met gemmer en kaneelstokkies en

`n enkele naeltjie of twee. Die geheim was hoeveel. O

ja, en dan nog `n bietjie suurlemoensap. Kyk hoe water

my bek nou! Ewenwel, vye het mos sulke klein pitjies,

en as daardie pitjies onder jou valstande inkom is dit

nag. Dis waar die ‘pitjiesrig’ vandaan kom. Is dit nie

pragtig nie?”

Hennie gryp `n botteltjie van die rak af, skud `n bietjie

van iets in sy hand uit, vryf twee hande teen mekaar en

woes-was my hare met die pommade. “Kos vir die hare”

beduie hy in my oor. Hy haal `n kam uit `n bakkie, trek

die paadjie reguit en kam die hare kant toe. Dit lê mooi

plat. As hy klaar is loop hy met die spieël om my en wys

hoe dit lyk. Netjies aan die kant.

Hy borsel die los hare weg en haal die doek

met `n teatrale gebaar van my nek af.

“Oeee” sê hy as ons by die kasregister kom,

“verskoon tog, my mond was weer op `n

katrol vanmôre, maar ek het so lekker

onthou!”

Ek betaal met `n glimlag. “Sien jou oor ses weke” groet

ek. En as ek buite in die son kom, is alle moontlike

pitjiesrigheid reeds uit die dag uit.

PvS