You also want an ePaper? Increase the reach of your titles
YUMPU automatically turns print PDFs into web optimized ePapers that Google loves.
Nuusblad van
KLK Landbou Bpk
Vol 38 • Junie 2021
KLK
Gesprek
Onteiening – hou dié punte voor oë
DIE NUWE ONTEIENINGSWETSONTWERP en
die wysigings tot artikel 25 van die Grondwet wat tans deur die
Parlement oorweeg word, saai opnuut kommer in die landbousektor.
Uiteenlopende menings in die media maak dit moeilik
om te weet wie of wat om te glo.
Agbiz is sedert 2013 deurgaans by die proses
betrokke en volg altyd ’n gebalanseerde benadering
in kommunikasie om lede te help om
die werklike risiko’s en geleethede vir hul
besighede te beoordeel. Die volgende
misverstande oor onteiening behoort
opgeklaar te word:
Onteiening gaan oor
grondhervorming
Onteiening vind hoofsaaklik plaas as infrastruktuur
gebou word en is al baie in die verlede gebruik
om seker te maak dat enkele grondeienaars nie
’n hele projek wat in die openbare belang is, belemmer
nie. ’n Goeie voorbeeld was toe die Gariepdam gebou is.
Die minister kan reeds deur bestaande wetgewing grond onteien
vir herverdeling, maar dié magte is skaars oor die laaste
20 jaar gebruik. Let wel dat onteiening slegs ’n metode vir die
staat is om eiendom te bekom, so die konsepwetgewing sê
niks oor aspekte soos wie die begunstigdes is of die omstandighede
waaronder grond vir herverdeling sal kwalifiseer nie.
Sonder die Onteieningswetsontwerp kan
die staat nie onteien nie
Die mag om te onteien bestaan reeds in die Grondwet.
Al wat die Onteieningswetsontwerp doen, is om ’n enkele
proses neer te lê wat gevolg moet word en wat beheer hoe
vergoeding bereken gaan word. Sonder die nuwe wet sal die
staat steeds kan onteien, maar die proses is dan nie duidelik
nie. Dit is in grondeienaars se belang dat die Onteieningswetsontwerp
in werking tree, aangesien die proses wigte
en teenwigte instel om te verseker dat die grondeienaar en
verbandhouer se belange in ag geneem word. Die wetsontwerp
vergelyk goed met internasionale voorbeelde.
ONTEIENING
SONDER
VERGOEDING
Berig: Agbiz
Die wetsontwerp sal die staat toelaat om enigiets
“in die openbare belang” te onteien
Die wetsontwerp gaan net oor die proses. Daar moet
ander wetgewing bestaan wat uiteensit wie mag
onteien, watse eiendom onteien mag word en
onder watter omstandighede. Daar is ook ’n
klousule wat vereis dat die staat eers moet
onderhandel om die eiendom te koop
voordat onteiening mag plaasvind. ’n
Grondeienaar kan dus nie onkant gevang
word nie. Onteiening is altyd die laaste
uitweg, aangesien die proses gewoonlik
langer neem en dit meer sal kos vir die staat
as om die eiendom te koop.
Daar is ’n lys van eiendom wat sonder
vergoeding onteien kan word
Beide die Onteieningswetsontwerp en die wysigings tot
die Grondwet hou regverdige en billike vergoeding as die
maatstaf. Dit sê bloot dat daar omstandighede mag wees
waar dit geregverdig is om R0 te betaal. Die staat kan nie
self vergoeding bepaal nie en ’n hof sal slegs in uiterste
omstandighede bevind dat R0 regverdig en billik is. Waar
eiendom nie produktief gebruik word nie, mag die staat wel
nulvergoeding aanbied en die onus op die eienaar plaas om
hof toe te gaan om vergoeding te bepaal. Dit is die enkele
grootste risiko met die wysigings.
Slotsom
Die Onteieningswetsontwerp sal waarskynlik slaag en die
Grondwet sal heel moontlik gewysig word. Die uitkoms kan ’n
wesenlike impak op investering hê, aangesien besluite gereeld
deur sentiment beïnvloed word. Die werklike kans vir geen vergoeding
is egter klein waar eiendom produktief gebruik word.
Die uitdaging is dus om seker te maak dat persepsies en sentiment
nie die werklike effek van die wetsontwerpe verbysteek en
so self tot negatiewe gevolge vir investering lei nie.
bl3
bl7
Barry groet na 38 jaar
Deel jou puik plaasplanne!
bl5
2 Aan die woord... KLK Gesprek
Uit die
Raadsaal
Stephen van Huyssteen
Besturende Direkteur: KLK
Marksake
Philip Naudé
Bestuurder: KLK Vleis
Finansiële resultate – 2021
Markoorsig: Februarie tot April 2021
DIE FINANSIËLE RESULTATE vir die jaar geein
dig 29 Februarie 2021 is op 31 Mei bekendgemaak.
Die KLK-groep het sy beste winsprestasie tot
op datum verklaar.
Die verdienste van R81,1 miljoen verteenwoordig
’n 57,2%-verhoging vergeleke met die vorige jaar.
Die wesensverdienste per aandeel het vanaf 292 sent
per aandeel tot 472 sent per aandeel toegeneem.
Hierdie uitstekende resultate word hoofsaaklik
toegeskryf aan die styging in winsbydraes van die
Handels- en Brandstofafdeling sowel as Carpe Diem
Raisins. Die fokus op koste- en margebestuur, die
verkryging van ’n addisionele 30%-belang in Carpe
Diem Raisins op 31 Julie 2020 asook die beter resultate
van die Lewendehawe-afdeling het verder tot
hierdie prestasie bygedra.
Die Vleisafdeling het swakker presteer as die vorige
jaar as gevolg van wesenlik laer slaggetalle. So ook
het SA Dorper minder goed as die vorige jaar presteer
weens swakker velkwaliteit en laer verkoopryse.
Groepsinkomste het met 12,5% gedaal tot R2 226,9 mil -
joen, hoofsaaklik as gevolg van die daling in slagge talle,
laer brandstofvolumes en -pryse, laer internasionale
rosyntjiepryse en die impak van COVID-19 op KLK
Handel, Build it en die Motorafdeling.
A-GRAAD-BEESPRYSE het vir
die driemaandeperiode redelik konstant
verhandel tussen R50,50/kg
en R52,20/kg. Dieselfde tendens
het by C-graad-bees voorgekom
met R44,30/kg as laagste vlak en
R46,20/kg as hoogste vlak.
Speenkalfpryse het egter ’n
daling getoon vanaf Februarie
(R40,96/kg lewendige massa)
tot April (R36,58/kg). Die aanbod
van lam en skaap bly laag en die
lewendige uitvoer van lam na die
Midde-Ooste plaas druk op plaaslike
abattoirs.
A-graad-karkasse het verhandel
tussen R81,00/kg en R87,00/kg, met
C-graad-skaapvleis konstant tussen
R62,00/kg en R65,00/kg vir die drie
maande. Gesprekke dui daarop
dat die aanbod vir slagbare lam en
skaap vanaf Mei tot Augustus laag
gaan wees.
Beesvleismarktendense
Beesvleis het vir April nasionaal verhandel
teen gemiddeld R51,75/kg vir
klas A en R46,07/kg vir klas C soos
gerapporteer deur die RPO/Absaprysrapporteringstelsel.
Die gemiddelde
nasionale speenkalfprys vir
April is R36,89/kg lewendige massa.
Skaapvleismarktendense
Skaapvleis het vir April nasionaal verhandel
teen R83,65/kg vir klas A2/A3
met ’n sprong in die laaste gedeelte
van April rondom die R87,00/kgvlakke.
Die gemiddelde prys van C2/
C3-skaapvleis was R64,45/kg en die
gemiddelde prys van stoorlammers
R41,82/kg lewendige massa. Die lae
aanbod en sterk stoorlamprys dui
daarop dat pryse bogemiddeld hoog
kan wees vir die winterperiode.
Bronne:
RPO/Absa-prysrapporteringstelsel
Kontantvloei uit bedryfsaktiwiteite was positief met
R168,5 miljoen, nadat netto bedryfskapitaal met
R30,8 miljoen afgeneem het en belasting van
R38,3 miljoen betaal is. Aanleg en toerusting van
R50,8 miljoen is aangekoop. Die verkryging van die
oorblywende niebeherende belang (37,5%) in Cool
Raisins en ’n addisionele 30%-belang in Carpe Diem
Raisins is gedurende die jaar afgehandel. Die netto
resultaat van bogenoemde was dat die kontantposisie
van die Groep met R23,4 miljoen verbeter het
vanaf R57,7 miljoen tot R81,1 miljoen.
Pitkos vir
die siel...
Floris Lategan
Staan die wêreld op sy kop?
Die Direksie gaan voort om die COVID-19-pandemie
te monitor, maar verwag minimale besigheids- en
bedryfsonderbrekings. Nieteenstaande die uitdagende
landbou- en handelstoestande en die negatiewe
impak van die voortslepende droogte in die Noord
Kaap wat aanleiding gee tot ’n skerp daling in slaggetalle
en dorpervelle en die onlangse versterking
van die rand/dollar-wisselkoers wat moontlik Carpe
Diem Raisins se resultate negatief kan beïnvloed,
word verwag dat die resulate gedurende die komende
jaar steeds bevredigend kan wees.
Die Direksie het besluit om geen dividend aan te
beveel nie omrede kontantreservering noodsaaklik is
vir moontlike geleenthede in die landbou en om KLK se
groei- en uitbreidingstrategie te ondersteun. Die Direksie
het wel besluit om tydens die Algemene Jaarvergadering
’n algemene magtiging te vra vir die terugkoop
van KLK-aandele. Meer inligting hieroor sal tydens die
Algemene Jaarvergadering bekendgemaak word.
Die Algemene Jaarvergadering van aandeelhouers vind
op Dinsdag 20 Julie 2021 by KLK se hoofkantoor plaas.
Efesiërs 1:22: “Aan Hom het
God alles onderwerp, Hom bo
alles verhef.”
CJ LANGENHOVEN het baie
jare gelede die volgende wysheid
kwytgeraak: “Soms voel jy die hele
wêreld is omgekeer, dan is dit al die
tyd maar net jou maag.”
Dit voel vir ons ook hier in die middel
van 2021 of die wêreld op sy
kop staan. Dít meet ons aan die
kleiner en die groter dinge van die
lewe – van huilende kinders, die
pap wiel, grootskaalse ekologiese
rampe tot natuurlik die koronavirus.
Dié sake mag alles realiteite wees,
maar daar is ’n nog groter realiteit:
Jesus Christus is die Here! “Aan Hom
het God alles onderwerp, Hom bo
alles verhef.” Hy is bo elke owerheid,
gesag en mag, ja, bo enigiets wat
genoem kan word. Nie alleen in
hierdie bedeling nie, maar ook
in die toekoms.
Alles wat op hierdie aarde skeefloop,
moet eers voor Sy troon ’n draai
gaan maak. Niks gaan ongesiens by
Hom verby nie. Daarom kan ons in
voorspoed dankbaar en in teenspoed
geduldig wees. Moenie dat die
storms van die lewe jou omblaas nie.
Die Here regeer – al is die
wêreld omgekeer.
Barry groet na 38 jaar
“PRESIES 38 JAAR en een maand – en moenie van die
een maand vergeet nie!” skerts Barry van Niekerk. Dit is die
jare wat hy in KLK se diens was voor hy vroeër vanjaar die tuig
neergelê het.
Barry het op 1 Februarie 1983 as toonbankklerk by KLK in
Upington begin werk. Hy het aan die einde van Maart as
kategoriebestuurder afgetree.
Tegnologie het oor die jare baie verander. Barry onthou hoe
alles vroeër jare met die hand geskryf is. “Ek het steeds ’n
merk op my vinger daarvan,” lag hy. “Teleks was daardie
jare die in-ding. Stelselmatig is dit deur faksimilees en e-pos
vervang. Nou het Skype oorgeneem en aanlyn gesprekke is
aan die orde van die dag.”
Is daar enige staaltjies oor sy jare by KLK?
“Nee, dit sal alles gesensor word. Ons
het baie kilometers gery en langs die pad
gebeur daar maar dinge wat nie oorvertel
kan word nie!”
Barry gaan vir eers ’n siek vriend met sy werk
help en daarna wil hy hom graag op houten
metaalwerk toespits. Hy beoog ook
om die land saam met sy vrou, Anlé,
te deurkruis.
Junie 2021
Wihan neem leisels
in Askham
Maatskappynuus
Terug waar hy vandaan kom
’N SIRKEL IS vir Dries Nel, pas aangestelde kategoriebestuurder,
voltooi.
Dié boorling van Upington het na vele omswerwinge gedurende
die grendeltyd besluit om na sy heimat terug te keer
en het in April by KLK begin werk. Dries het op ’n
besproeiingsplaas in die omgewing grootgeword.
Hy was voorheen in aankope en bestuur by ander
landboumaatskappye werksaam.
Komende uit ’n besproeiingsmilieu, is dit ook
die produkte waarvoor hy verantwoordelik sal
wees. Hy wil veral op prys, diens en gehalte e
fokus, maar ook nisprodukte vind.
In sy vrye tyd hou Dries van motorfietsry,
metaalwerk, tuinmaak en visvang.
Hy het ’n 13-jarige seun en sy vriendin,
Karin, is ’n persoonlike assistent.
3
Hy bedank sy kollegas en die klante
wat deur die jare sy pad gekruis en
sy lewe verryk het. “Ek is dankbaar
hulle het my die mens gemaak wat
ek vandag is.“
Groot planne
vir Build it, Kathu
GERHARD SMIT IS die nuut aangestelde bestuurder
by Build it in Kathu.
Dié boorling van Vryburg het sy loopbaan by Solomon Stores, ’n
geskiedkundige ysterwarewinkel in sy tuisdorp, begin en daarna
by verskeie soortgelyke ondernemings ervaring opgedoen. Voor
sy koms na Kathu was hy in die boubedryf betrokke.
Gerhard sien veral uit na die opgradering van
die tak. Die tak sal vanaf begin Junie 2021
verder spog met ’n KLK Petworld-afdeling
waar troeteldierbenodighede – van voëlsaad
tot hondeleibande en alles tussenin – te kry
sal wees.
Hy en sy vrou, Audrey, het ’n
13-jarige dogter en ’n seun-endogter-tweeling
van ses jaar. Hy
speel graag gholf en geniet ook
rugby en braai.
Jou Vennoot Betroubaar Innoverend
WIHAN SWART IS onlangs as bestuurder
by die KLK-tak in Askham aangestel. Hy is in
Upington gebore en getoë en het voorheen by
’n bande-onderneming gewerk.
Hy sien baie uit na die nuwe uitdaging en sê sy
eerste prioriteit is om die gemeenskap se vertroue
te wen en foute by die tak reg te stel.
Jag en motorfietsry is twee van Wihan se
gunstelingontspanningsaktiwiteite. Hy het ook ’n
klein boerbokboerdery op sy pa se plaas in die
Kenhardt-omgewing.
Wihan is met Melissa,’n skoonheidsterapeut,
getroud. Haar plan is om die mense van
Askham nog mooier te maak.
Chris nou by petroleum
CHRIS ERASMUS IS die afgelope ses jaar reeds ’n
bekende gesig by KLK.
Hy was voorheen kategoriebestuurder en ook vir ’n kort tydjie
bestuurder by die Askham-tak. Chris is in April as bemarker by
die Petroleum-afdeling aangestel.
Sy pos behels besoeke aan verskaffers,
produsente en handelstakke en hy geniet dit
terdeë. Die Petroleum-afdeling verskaf olie,
diesel, petrol, paraffien en gas.
Chris is ’n ywerige hengelaar en
maak ook graag potloodsketse
in sy vrye tyd.
Hy en sy vrou, Lizna, is die
trotse ouers van Mari (16)
en Christiaan (11).
4 Omgewingsake KLK Gesprek
Vooruitsigte vir die komende
winter en somer
LA NIÑA-VERSKYNSELS veroorsaak
gewoonlik beter reënvaltoestande oor
die westelike dele van die land, maar die
La Niña van 2020/2021 het in intensiteit
as ’n matige verskynsel gepiek in ongeveer
Desember 2020 (oppervlaktemperature
in die Niño-gebiede was ongeveer 1,2°C
koeler as normaal).
Dit het dus in 2020/2021 nie dieselfde uitwerking
op reënval gehad as in 2010/2011
toe dit ’n sterk episode was met oppervlaktemperature
wat vir vier maande 1,6°C
koeler as normaal was nie. Hoe sterker
die La Niña-verskynsel, hoe verder wes- en
suidweswaarts veroorsaak dit reën. Dit is
dikwels slegs tydens besonder sterk La Niñaverskynsels
waar bogemiddelde somerreënval
oor die verre suidwestelike dele voorkom
of tydens sterk El Niño-verskynsels waar
koue fronte verder noord skuif en winterreënval
langs die Weskus en aangrensende
binneland veroorsaak.
2020/2021 se La Niña het in Maart 2021
oorgegaan in ’n neutrale fase en is tans
binne die reeks van ongeveer 0,5°C vanaf
die langtermyn- gemiddelde oppervlaktemperatuur
in die Niño-gebiede. Die verwagting
is dat dit in die neutrale fase gaan
bly tot ongeveer September en dan weer
oorgaan in ’n swak tot matige La Niñafase
wat positief vir reën gaan wees.
Die ander faktor wat die invloed van El
Niño of La Niña kan versterk of verswak,
is die stand van die Indiese Oseaan se
oppervlaktemperature. Indien die westelike
Indiese Oseaan (nader aan die Afrikakuslyn)
koeler as die oostelike gedeeltes
(nader aan Australië) is, is dit gunstig vir
reënval oor Suidelike Afrika. Alhoewel
toestande in die Indiese Oseaan heelwat
vinniger kan verander as in die Niño-gebiede,
lyk dit tans asof die Indiese Oseaan
ook in ’n neutrale fase inbeweeg en dus
nie veel invloed op die reënvaltoestande
van die verwagte La Niña-verskynsel
gaan uitoefen nie.
Wat die winter betref, kan die koeler water
in die suidwestelike Indiese Oseaan (suid
en oos van Kaapstad) wat tans voorkom,
soos verlede jaar weer sorg vir ’n redelik
koue winter. Vanaf die laaste deel van Mei
kan baie koue lug agter die koue fronte
Johan van den Berg
Onafhanklike landbouweerkundige
die binneland bereik en skerp temperatuurdalings
veroorsaak.
Opsommend en waarskuwings
Reënvaltoestande lyk redelik gunstig oor
veral die Kalahari en oostelike dele van
die Noord-Kaap asook ooswaarts in die
land vanaf ongeveer November/Desember
2021 as gevolg van ’n opvolgende
La Niña-verskynsel (swak tot matige sterkte)
en die voortbou van ’n natter siklus.
Die verwagte goeie reënvaltoestande
wat veral in die tweede deel van die
somer van 2021/2022 (Januarie tot
Maart) oor gedeeltes van die Noord-
Kaap en aangrensende dele van
ander provinsies gaan heers, kan die
sprinkaanprobleem heelwat vererger.
2021 se winter gaan weer eens baie
koud wees en besonder lae temperature
kan in veral die midwinter vanaf Junie
tot middel Augustus voorkom.
Isuzu skenk R40 000 aan skole
DIE NOORD-KAAP beleef tans ’n
dubbele terugslag met moeilike ekonomiese
omstandighede weens COVID-19 én die
voortslepende droogte.
Gordonia Motors in Upington in samewerking
met die Isuzu ChildLife-stigting het tot
die redding van twee skole in Upington
gekom, waar leerders swaar deur die
finansiële stryd van die omliggende plaasgemeenskappe
geraak word. Die skenking
van R40 000 is gedoen om laerskoolleerders,
wie se ouers ’n moeilike tyd beleef,
by te staan.
“Die kinders kom van omliggende plase.
Hul ouers is dagloonwerkers en sukkel om
die nodige skryfbehoeftes aan te koop.
Daar is ook ’n behoefte aan skoolklere
en sweetpakke,” sê Hennie Marais,
handelaarshoof van Gordonia Motors.
“Tans probeer die onderwysers en
beheerliggaam om die nodigste aan die
leerders te verskaf, maar weens die droogte
is daar ’n gebrek aan inkomste, omdat
almal in ’n oorlewingstryd gewikkel is,” sê
Hennie verder.
Die Primêre Skool Op die Voorpos het
R20 000 ontvang. In ’n bedankingsbrief
sê die skoolhoof, Mariëhetta Pool, die geld
sal vir 2021-skoolfonds, skryfbehoeftes
en skooldrag vir behoeftige leerders
aangewend word. “Ons het 20 leerders
geïdentifiseer wat werklik swaarkry en wil
hulle graag help.”
So ook het Laerskool Oranje-Noord R20
000 ontvang. Hierdie geld sal sowat
30 leerders, afkomstig van die Dakotaplakkerskamp
en Freedom Square (ook
bekend as Diedericks-woonstelle) help met
skooltasse, skryfbehoeftes en skooldrag.
Sias van Rooyen, Laerskool Oranje-Noord
se skoolhoof, het alle betrokkenes tydens
die oorhandigingsgeleentheid vir die mooi
gebaar bedank.
Sias van Rooyen (hoof: Laerskool Oranje-Noord) en
personeel van Gordonia Motors (Willie Marais, Ilene de
Waal en Gregory du Plessis) saam met van die leerders.
Gordonia Motors se Gregory du Plessis, Willie Marais en Ilene
de Waal oorhandig die tjek aan Mariëhetta Pool (hoof: Primêre
Skool Op die Voorpos). By hulle is enkele leerders van die skool.
Landbou en die 4IR
DEUR DIE EEUE is verbeterde landbouproduksie
vooruitgegaan deur tegnologiese
innovasie. Die ontdekking van die wiel, die
trekker, verbeterde genetika, landbouchemikalieë
en verkoeling het gelei tot die groen
rewolusie en grootskaalse voedselsekerheid.
Tye is egter besig om te verander en die
wêreldpopulasie sal na beraming tot
byna 10 miljard mense groei teen 2050.
Afrika se bevolking gaan bykans verdubbel
in dieselfde tydperk. Dit terwyl aardverwarmingsgasse
soos CO² die hoogste
vlakke nog bereik het en veranderlike
reënvalpatrone reeds ’n impak op plaaslike
ekonomieë het. Die gevaar bestaan dat
dit tot stygende voedselpryse kan lei en ’n
bedreiging vir sosiale stabiliteit kan inhou.
Om hierdie rede is dit belangrik dat landbouproduksie
moet toeneem om ekonomiese
groei te stimuleer, wat sal lei tot werkskepping
en voedselsekerheid. Verbeterde produk
tiwiteit en optimalisering van produksie
is die enigste uitweg.
Die Vierde Industriële Rewolusie (4IR) omvat
’n reeks tegnologieë wat tot drastiese verbetering
in landbouproduksie en verwante
bedrywe kan lei. Interkonnektiwiteit via die
Internet het reeds gelei tot presisieboerdery
en gaan binnekort ’n integrale deel van
boerdery wees. Die Internet van Dinge (IoT)
genereer voortdurend nuwe data deur ’n
verskeidenheid van sensors wat opbrengste
optimaliseer en fisiese menslike hantering
minimaliseer. Deur middel van kunsmatige
intelligensie (KI) kan rekenaarprogrammatuur
verskeie faktore bereken, soos optimale
grondtemperatuur, grondvog en grondvoedingstowwe.
KI kan suboptimale toestande
herken en die nodige aanpassings maak in
besproeiing, bemesting en pes/plaagbeheer.
Dieregesondheid, reproduksiesiklusse en
selfs die lokaliteit van diere kan ook deur KI
bepaal word.
Hannes Gerber
Eiland-navorsingstasie, Upington
Hommeltuigtegnologie word ingespan vir KI.
Hommeltuig- en satellietgebaseerde sensors
verskaf reeds baie van die agtergrondinligting
wat benodig word vir KI-toepassings.
Hommeltuigtegnologie word ingespan vir
plaasbeplanning, grond- en gewasondersoeke,
presisiebespuiting, monitering van
groeikragtigheid asook oesskattings. Die
Noord-Kaapse Departement van Landbou,
Grondhervorming en Landelike Ontwikkeling
moniteer reeds plantegroei en droogtetoestande
met behulp van hierdie tipe tegnologie.
Hommeltuie word gebruik om digtheid van
plantegroei, spesiediversiteit, bosindringing en
moontlike verwoestyning oor tyd dop te hou.
Soortgelyke tegnieke word ook toegepas om
die gedrag en weipatrone van diere te identifiseer
en sodoende weiveld te optimaliseer.
Hierdie digitale tegnologieë verwyder fisiese
limiete in boerdery deur die komplekse inte
grasie van interafhanklike elemente wat
produksie en winsgewendheid bevorder.
Konnektiwiteit, die toegang tot en bestuur van
groot hoeveelhede data gaan binnekort ’n
belangrike vennoot van die produsent wees.
Nuwe Nissan MAGNITE beïndruk
Junie 2021
Aktueel
Prysrekords spat
Hier is Jaco Flemix (nuwe eienaar) by Leroy Phillips,
Bruce Phillips, Makhaya Mangali en Deon Klopper (afslaer).
5
’N REKORDPRYS VIR ’n bul is op
21 April vanjaar by die KLK Lewende Hawe
Towton Bonsmara-veiling behaal. Dié
Bonsmara-stoetbul van Philip Williams van
Towton Bonsmaras is vir R100 000 aan JA
Momberg van Kuruman verkoop.
Die gemid delde prys behaal vir die 22 bulle
by die veiling was R51 136,36. Die meerderheid
vroulike diere by die veiling was
kommersieel, met R17 031,25 die gemiddelde
prys vir koeie met kalwers, terwyl
koeie gemid deld R14 248,65 en verse
R14 184,21 behaal het. By die onlangse
5 Star-veiling wat KLK Lewende Hawe in
Upington aangebied het, is ’n rekordprys
vir ’n Dorper-ram behaal. Dié bielie van ’n
ram het aan Leroy Phillips behoort en Flemix
Property Investment van Boshoff het dit vir ’n
allemintige R400 000 gekoop.
KLK-aandele
GEEN AANDELE het vir die periode 1 Februarie
2021 tot 30 April 2021 verhandel nie.
NISSAN HET ’N splinternuwe produk bekendgestel wat gewis die koppe gaan laat draai.
Die Nissan Magnite is ’n kompakte sportnutsvoertuig, toegerus met die perfekte mengsel
van moderne tegnologie, kwaliteit en afwerking. Ver-
der het
dit genoeg ruimte daarby.
Onder die enjinkap pryk ’n kragtige 1,0-liter
turbo-aangedrewe enjin, wat 84 kW se
krag uitskop.
Met sy heerlike rygerief en billike prys, gaan
die Magnite vir seker die strate rooi verf.
Kontak gerus vir Oranje Nissan om hierdie
voertuig te toetsbestuur 054 338 8000.
Jou Vennoot Betroubaar Innoverend
SEISOENREKENING VIR
AANKOOP VAN PRODUKSIEMIDDELE
Krediet vir die aankoop van produksiemiddele soos draad, pale,
plantmateriaal, chemikalieë, bemestingstowwe of enige ander produksie
verwante insette. Kontak gerus vir Vonnie Haarhoff by KLK Credit
om meer uit te vind oor KLK Credit se seisoenrekening.
Vonnie.Haarhoff@agrics.co.za
054 337 6200 082 781 0194
credit
KLK Credit is ’n divisie
van Agri Credit Solutions
6 Aktueel
KLK Gesprek
WANNEER SLIM MENSE DOM DINGE DOEN
Cobus Booysen
Bestuurder: Menslike Hulpbronne
INTELLIGENTE MENSE HET soms
die reputasie dat hulle dom foute maak, veral
in situasies waar gesonde verstand vereis word.
“Common sense is not so common.”
– Voltaire
Na dekades van navorsing het wetenskaplikes
uitgevind hoekom rasionele denke en
intelligensie nie altyd hand aan hand gaan
nie. Shane Frederick van die Yale Universiteit
het bevind dat sommige mense die
geneigdheid het om met groot selfvertroue
die verkeerde antwoord te gee omdat hulle
meer denkfoute begaan wanneer hulle
poog om probleme op te los. Intelligente
mense het meer blindekolle in hulle logika,
omdat hulle neig om te veel selfvertroue in
hul eie redenasievermoëns te hê. Hulle is
so gewoond daaraan om altyd die regte en
vinnige antwoorde te hê, dat hulle nie eens
besef wanneer hulle die verkeerde antwoorde
gee sonder om dit te deurdink nie. Boonop is
slim mense meestal onbewus daarvan.
“I know that I am intelligent, because
I know that I know nothing.”
– Socrates
Hier is sommige van die algemene foute
wat intelligente mense maak.
1. Slim mense het te veel
selfvertroue
Jare se aanprysing en erkenning laat
slim mense ’n oordrewe geloof in hul eie
intelligensie en vermoëns ontwikkel. Sulke
mense erken baie selde dat hulle ook hulp
benodig. Wanneer hulle dit wel erken, dan
glo hulle gewoonlik niemand anders is in
staat om dit te verleen nie.
2. Hulle dryf mense te hard
Slim mense is dikwels oorpresteerders,
omdat dinge te maklik na hulle kant toe
kom. Hulle besef eenvoudig nie hoe hard
sommige mense moet werk om dieselfde
prestasies te bereik nie en dit veroorsaak
dat hulle mense te hard dryf. Sodoende
word die geleentheid gemis om ander te
help om hulle doelwitte te bereik.
3. Hulle moet altyd reg wees
Dit is moeilik vir enigiemand om met grasie te
aanvaar dat hulle verkeerd is. Dit is nog moeiliker
vir slim mense, omdat hulle gewoonlik reg
is en dit deel van hulle identiteit geraak het.
4. Hulle het meestal ’n gebrek
aan emosionele intelligensie
Intelligensie (IQ) en emosionele intelligensie
(EQ) loop nie noodwendig saam nie.
Hoë IQ-, lae EQ-individue sien die
wêreld as ’n meritokrasie. Prestasie is al
wat saak maak – en mense en emosies is
dikwels net in die pad.
5. Hulle gee op wanneer
hulle misluk
Slim mense kan maklik in die strik trap om
mislukking as die einde van die wêreld
te ervaar, omdat deurlopende sukses
verwagtinge skep wat mislukkings moeilik
aanvaarbaar maak. Mense wat hard moes
werk om suksesvol te wees, het al geleer
hoe om mislukkings te hanteer.
6. Hulle ontwikkel nie deursettingsvermoë
nie
Wanneer dinge maklik na jou kant toe kom,
kan harde werk as iets negatiefs ervaar
word – ’n teken dat jy nie het wat dit vereis
nie. Die resultaat hiervan is dat slim mense
gewoonlik aanbeweeg na iets wat hulle
eiewaarde bevestig voordat hulle die deursettingsvermoë
ontwikkel wat nodig is om
die hoogste sport te bereik.
7. Hulle multitask
Slim mense hou daarvan om verskeie dinge
gelyktydig te doen sodat geen tyd gemors
word nie. Dit maak ’n mens egter meer
onproduktief. Mense doen dit dikwels omdat
hulle glo hulle is goed daarin, terwyl hulle
inderdaad swakker vaar as mense wat verkies
om een taak op ’n slag aan te pak.
8. Hulle aanvaar terugvoering
moeilik
Slim mense is geneig om nie genoeg
waarde te heg aan die opinie van ander
nie. Dit beïnvloed hulle ontwikkeling en
prestasie negatief en kan ook lei tot
ongesonde verhoudinge.
Samevatting
Sommige van die lewe se grootste geskenke,
insluitend hoë intelligensie, kom saam
met groot uitdagings. As jy nie bereid is om
die hele prentjie eerlik te bekyk nie, benadeel
jy jouself. En dit is nie slim nie!
Veilings nou ’n droom met nuwe toestel
KLK SE Inligtingstegnologie-span het onlangs binne twee dae ’n
innoverende toestel gebou om ’n Wi-Fi-sein by veilings te verseker.
Volgens Roan Pretorius, bestuurder: Inligtingstegnologie, het KLK
se Lewendehawe-afdeling hulle om hulp genader. “Veilings word
dikwels in afgeleë gebiede aangebied waar daar nie noodwendig
’n sein is nie. Sonder ’n sein is dit moeilik om die betalings op
veilings af te handel.” Die IT-span het koppe bymekaargesit en
die toestel van nuuts af gebou. Dit kan met elektrisiteit, sonkrag
of krag van ’n opwekker werk om ’n selfoonsein in ’n Wi-Fi-sein
om te skakel. Die toestel se reikwydte is sowat 200 m en dit is
maklik vervoerbaar.
Die trotse IT-span by hul breinkind wat ’n Wi-Fi-sein in die mees afgeleë gebiede
kan verseker – Pierre Engels (tegnikus), Cobus Malherbe (data-administrateur),
Wilfred McDuling (stelseladministrateur), Chris van Tonder (tegnikus) en
Roan Pretorius (bestuurder: Inligtingstegnologie).
Junie 2021
Aktueel
7
Gereedskap vir enige taak
KLK IS DAAR vir wanneer die doen-dit-self-entoesias of die
ambagsman gereedskap benodig.
Handelstakke kan help met gereedskap volgens elkeen se
behoefte – kies uit ons groot reeks Bosch- en Skil-produkte!
Wanneer jy Bosch- of Skil-kraggereedskap wil koop, vra jouself die
volgende vrae:
1) Hoeveel verskillende take moet ek verrig?
2) Hoe lank gaan ek besig wees?
3) Hoe veilig is dit om self daarmee te werk?
4) Gaan ek dit reg gebruik sodat ek nie die eenjaarwaarborg verloor nie?
Ambagsmanne (en -vroue), besighede en produsente koop die
Bosch- industriële reeks (blou kleur). Hulle moet (1) verskillende take
verrig, (2) lang ure per dag, (3) veilig daarmee werk en (4) dit nie
verkeerd gebruik om sodoende die waarborg te verloor nie.
Vir klein takies in en om die huis, word die Bosch DIY- of Skil-reeks
(groen kleur) aanbeveel. Dit moet (1) ’n spesifieke taak verrig, (2)
wat min tyd verg, (3) gemaklik voel om self daarmee te werk (4) en
gebruik word vir die doel waarvoor dit ontwerp is.
’n Groot voordeel is dat die tweepenkragprop waarmee die
gereedskap uitkom met ’n driepenprop vervang mag word.
Dit sal NIE die waarbo rg beïnvloed nie.
Daar is ’n geskikte e Bosch- of Skil-produk om jou te help met jou
projek – groot of klein!
Deel jou puik
plaasplanne!
STAAN SAAM, help mekaar en leer bymekaar… So dikwels word
hierdie woorde geuiter wanneer daar oor die produsente van ons land
gepraat word; deur politici, landbou-organisasies en produsente self.
In hierdie nuwe rubriek in KLK Gesprek gaan ons juis dit beklemtoon.
Dit is nie nodig om keer op keer die wiel te herontdek nie. Vir elke
probleem en uitdaging op Suid-Afrikaanse plase is daar reeds ’n
oplossing – dis net dat nie almal hierdie oplossing ken nie! Daar is reeds
iemand daar buite wat weet hoe om pampoenpitte te plant sonder om
dae lank met hande-arbeid in die son te swoeg, iemand wat weet hoe
om lekbakke te herwin of voer perfek te meng.
In die KLK Gesprek van Junie 2019 het Jasper Maas van die Pofadderomgewing
sy blink plan gedeel om rooikatte van sy plaas af te hou deur
jakkalsdraad vir die doel aan te pas. Jasper het vertel dat hy sy plan wyd
en syd deel om rooikatte te kortwiek.
Met Puik Plaasplanne beoog KLK Gesprek juis dit – dat ons lesers hul
unieke planne met medelandbouers deel.
Stuur jou blink planne en foto’s na Puik Plaasplanne
per e-pos na Jorine Viviers by jorine@klk.co.za of per
WhatsApp na 054 337 6200.
In elke uitgawe van KLK Gesprek sal ons dan van
hierdie puik planne deel.
WEN!
Een gelukkige KLK Gesprek-leser het die geleentheid om
’n Bosch Sabre-saag te wen deur die volgende vraag
korrek te beantwoord: Watter kleur is die Bosch DIYreeks?
Stuur jou antwoord per SMS na 49711, per e-pos
na Jorine Viviers by jorine@klk.co.za of per WhatsApp na
054 337 6200. Sluitingsdatum: 31 Julie 2021.
Reëls
Werknemers van die KLK-groep
mag nie aan die kompetisie deelneem
nie. • Slegs een inskrywing per persoon.
• Die wenner sal telefonies in
kennis gestel word en in die volgende
KLK Gesprek bekendgemaak word.
• Die prys sal na die naaste KLKhandels
tak gestuur word en kan daar
afgehaal word. • Die prys kan nie vir
kontant omgeruil word nie.
Die gelukkige wenner van die
Duram/Dulux-geskenkbewys van
R500 is Danie Marais van Upington
(regs). Hier ontvang hy sy
prys van Josua Visser (KLK).
is ’n nuusblad wat vier keer
per jaar namens KLK deur
saamgestel en uitgegee word.
NAMENS KLK LANDBOU BPK
Jorine Viviers *
054 337 6202 • jorine@klk.co.za
* Vir navrae oor die verspreiding van
, of adreswysigings,
kontak vir Jorine Viviers.
REDAKSIE
Jadine van Heerden
018 468 2716
Johan Smit
018 468 2716
Jou Vennoot Betroubaar Innoverend
BLADUITLEG EN DRUK
Infoworks
(uitlegkunstenaar: Ezbé van Wyk)
018 468 2716
your ideas can fly
8 Omgewingsake
Laksmanne doen hul naam gestand
’N MENS KOM nogal dikwels ’n tor of sprinkaan teë wat aan ’n
doring van ’n struik of boom of aan doringdraad opgehang is. Soms
kan dit selfs ’n klein voëltjie wees. Dit is die werk van die fiskaallaksman.
Daar word gewoonlik gesê dit is kos wat gebêre word vir later, maar
soos altyd is die natuur hier ook vol verrassings.
Die ware laksmanne (shrikes) is ’n groot groep voëls wat van veral
insekte, maar ook ander kleiner gewerwelde diere, lewe. Hiervoor het
hulle sterk bekke, dikwels met ’n prominente haak om hul prooi mee
vas te vat en dood te byt. Wêreldwyd is daar 33 soorte – net
Suid-Amerika en Australië het nie laksmanne nie.
Laksmanne is normaalweg donkerder van kleur bo – dikwels swart,
grys of rooibruin, soms in delikate skakerings – en ligter onder. Hulle
het prominent gekleurde krone en oogstrepe en ook wit V-vormige
merke op hulle vlerke. Hulle jag graag van opvallende sitplekke in die
oop maar boomryke landskappe wat hulle verkies. Van hier af bespied
hulle die grond vir prooi. Hulle “donker bo en lig onder” veredos
beteken dat hulle maksimum sonhitte van bo kan absorbeer, terwyl
hulle vir hul prooi sit en wag. Terselfdertyd maak hul ligter onderkante
dit waarskynlik moeiliker vir die prooi om hulle van onder
raak te sien teen die lug.
Suid-Afrika het drie laksmanne, waarvan die fiskaallaksman die alge
meenste is en oor die hele land voorkom en broei. Dit is ’n prominente
“swart bo en wit onder” voël. Die wit V op die swart rug is baie
opvallend. Die ander twee laksmanne wat hier broei, val in ’n ander
subfamilie as die fiskaallaksman. Hulle is bosveldvoëls met identiese
verspreidings in die noordooste. In teenstelling met die fiskaallaksman
wat meestal alleen gesien word, is die langstertlaksman en die
kremetartlaksman sosiaal en altyd in groepe te vind. Hulle broei ook
in groepe met ’n enkele nes waarin net die alfa-wyfie eiers lê. Die hele
groep help egter die kleintjies versorg.
Die fiskaallaksman, soos feitlik elkeen van die ander 28 ware
laksmanne van die genus Lanius, is bekend dat hulle prooi ophang.
Dit is waarskynlik waar die naam “laksman” sy oorsprong het. By die
soorte waar die gedrag goed bestudeer is, blyk dit veral algemeen
te wees in die broeiseisoen en word deur die mannetjie uitgevoer. By
party soorte word dit meer gedoen wanneer die broeiseisoen begin,
Die rooiruglaksman is ’n
niebroeiende somerbesoeker.
Die artikel is geskryf deur Francois van der Merwe,
’n natuurliefhebber van Calvinia. Vir meer inligting,
stuur ’n e-pos na
terwyl die mannetjie sy broeigebied adverteer en hom aan wyfies
bekendstel. Die ophang van prooi wat nie onmiddellik gevreet word
nie omdat dit surplus tot behoeftes is, dien dan om ander laksmanne te
waarsku dat die bepaalde broeigebied reeds beset is. Dit toon ook aan
wyfies dat die mannetjie fiks en ’n goeie jagter is wat vir haar en die
kleintjies sal kan sorg.
By ander soorte word prooi ook later in die broeiseisoen opgehang wanneer
daar reeds kleintjies is. Dan is dit nie meer nodig om die wyfie te
beïndruk nie. Nou dien die gestoorde prooi as voedselbron vir die wyfie
op die nes sodat sy nie self lank hoef te gaan jag nie – en ook as kos
vir die kleintjies, veral wanneer die weer sleg en jag moeilik is. Miskien
help die ophang en uitdroog van veral insekte met skadelike chemiese
afskeidings ook dat die afskeidings hulle krag verloor en die laksman
dus die insek veilig kan vreet. Studies toon dat laksmanne sowat 60% tot
70% van hulle opgehangde prooi weer gebruik. Dit bevestig dat daar
ander redes is vir die ophang as net om voedsel te stoor. Alhoewel die
fiskaallaksman baie algemeen is en al deeglik bestudeer is, weet ons
nog min van sy prooi-ophanggewoontes.
Daar is twee laksmanne uit die Noordelike Halfrond wat trekvoëls is en
nie hier broei nie. Hulle hang dus waarskynlik ook nie prooi op terwyl
hulle in Suid-Afrika is nie. Dit is die gryslaksman en die baie aantreklike
rooiruglaksman. Albei het swart rowermaskers oor hulle oë en is algemeen
in die Kalahari in goeie reënjare. In die Europese lande waar hulle
broei, is daar kommer oor dalende getalle weens veral onsimpatieke
en intensiewe landboupraktyke wat tot ’n skerp afname in insekgetalle
lei. Voorheen was daar honderde rooiruglaksmanne in die Verenigde
Koninkryk en nou is daar net enkeles.
Terloops, daar is nog ’n naby familiegroep voëls in Suid-Afrika wat
as die boslaksmanne (bush shrikes) bekendstaan. Onder hulle tel
die pragtige rooiborsfiskaal en bokmakierie. Hulle regverdig ’n eie
bydrae op ’n later stadium.
As hoofsaaklik insekvreters is laksmanne goeie barometers van die stand
van ons inseklewe wat, soos in ’n vorige bydrae aangedui is, lewensbelangrike
ekologiese funksies vervul. As laksmangetalle vinnig daal,
beteken dit waarskynlik dat hulle belangrikste voedselbron onder druk
is, hetsy weens direkte menslike optrede soos oormatige giftoediening of
indirek weens mensgemaakte klimaatsverandering.
’n Tor wat deur ’n fiskaallaksman in sy spens
opgehang is.
Die gryslaksman,’n algemene somerbesoeker, het soos
baie laksmanne ’n opvallende rowermasker.
Die rooiborsfiskaal kom algemeen in die Kalahari voor, maar is nie ’n ware laksman nie.