You also want an ePaper? Increase the reach of your titles
YUMPU automatically turns print PDFs into web optimized ePapers that Google loves.
OB 3/2020
INHOUD VAN HIERDIE BRIEF:
Program van die week
Algemene sake (Sien artikel – Kan jou kind se skool regtig huiswerk afskaf?)
Waarde vir die week
Gedagte vir die week
Assessering word voortaan onder Bronne op D6 gelaai en is nie in Larrie Lyster ingesluit nie
Algemene Advertensies
6 Februarie 2020
PROGRAM VIR DIE WEEK:
DAG VAN DIE DATUM AKADEMIESE
WEEK
DAG (Gr 4-7)
Vrydag 7 Februarie Dag 3
AKTIWITEITE:
Saterdag 8 Februarie Boogskiet NASP EK/NG 3D Leg 1
Ruimsig Top 20 Byeenkoms
Maandag 10 Februarie Dag 4 GSF (Gr 1-3) Assessering begin
Geen afwesighede nie
Dinsdag 11 Februarie Dag 5 Atletiek Interskole (RHS)
(Reëlings vir die skooldag aangeheg)
Woensdag 12 Februarie Dag 5
Donderdag 13 Februarie Dag 6
Vrydag 14 Februarie Dag 1 Landsdiens Bundukamp
Saterdag
15 Februarie
Maandag 17 Februarie Dag 2
ALGEMENE SAKE:
TENNIS:
LANDSFINAAL O. 13 SEUNS BNP PARIBAS TENNISTOERNOOI
Juandré Verwey, Fano Theron, Julian Booysen
en Kgolagano Kgatshe het die afgelope naweek,
31 Januarie tot 2 Februarie, vir Larries
verteenwoordig by die landsfinaal van die
BNP Paribas tennistoernooi vir O. 13 spanne.
Uit 'n totaal van 200 spanne het daar uiteindelik
net 11 spanne deurgedring na die derde ronde,
waarvan Larries een span was.
Op Vrydag en Saterdag is daar
rondomtaliewedstryde
gespeel en Larries het vierde in hul groep gekom.
Na Sondag was Larries uiteindelik 6de algeheel.
Ons is ongelooflik trots op hierdie spelers!
Dit was 'n taai toernooi en die seuns het hul
staal gewys. Om hul tennishelde Lloyd Harris
en Kevin Anderson te ontmoet, en natuurlik al die
ander maats van regoor die land, was 'n baie
spesiale ervaring vir die seuns.
Daar is reeds besluit dat hierdie toernooi
die einde van die jaar herhaal gaan word, met
die hoërskole wat ook dan ingesluit gaan word.
Daar word gereken dat omtrent 700 skole dan
betrokke gaan wees.
Larries sien daarna uit om daar óók hul merk te maak!
Baie geluk seuns!
LANDSDIENS:
Die Landsdiens het op Vrydag, 31 Januarie, ons afskopkamp vir die jaar gehad. Ons as
personeel wil vir elke Landsdiener wat die aand saam met ons spandeer het baie dankie sê vir
hul uitstekende gedrag. Dit was voorwaar groot pret so tussen die speletjies en skeerroom
deur.
Ons Bundukamp wat op 14 Februarie gaan plaasvind beloof om ook vir baie pret en opwinding
te sorg. Koste is R400 en kan so gou moontlik by juffrou Lirentia betaal word.
UITTEKEN VAN LEERDERS:
Daar is verlede Vrydag ‘n opname gemaak van al die leerders wat deur die dag uitgeteken
word tydens skoolure. Ons beroep ons op u as ouers om toe te sien dat u kind teenwoordig is
tydens klastyd. Ons verstaan dat daar in sekere gevalle noodsituasies is.
U weet dat opvoeding van kleins af reeds roetine en dissipline moet vestig. Daar moet reeds
van kleins af lewenswaardes soos die van skoolbywoning, gekweek word.
Help ons asseblief om hierdie saak aan te spreek.
NS: Ons het volle begrip indien dit eenmalig is, maar wanneer dit ‘n patroon volg
begin die rooi ligte vir ons flikker.
Ons vra u volle samewerking met hierdie belangrike saak.
VALENTYNLOOP:
Naam
Ouderdom
Graad
Voogklas
laerskool rustenburg
mnr. en mej. Valentynloop
20 Februarie 2020
: _______________________________________
: _____________
: _____________
: _____________
Inskrywingsfooi - R20,00 (As u dogter/seun nie ‘n inskrywingsvorm het
nie, kan hy/sy naam by Juf. Anneen Mostert kom opgee, klaskamer 18)
_________________________
HANDTEKENING VAN OUER
______________________
DATUM
Reëls : Loerie Larrie - Gr. R
- Alle Junior leerders, Gr. 1 - 3 en Seniors Gr. 4 - 7 is welkom
- Seuns en Dogters
- Kom deel in die pret! Elkeen het ‘n kans!!
- Modelwerk word nie in aanmerking geneem nie
- Beslissing van beoordelaars is finaal
- Deur u kind in te skryf, ondersteun u die skool se Gr. 7 fonds
Plek
: Laerskool Rustenburg Skoolsaal
Datum : 20 Februarie 2020
Tyd : Stiptelik 14:00 - ±16:00
Toegang : Volwassenes en kinders R10,00
Inskrywingsfooi : R20,00
Kleredrag : Eie keuse (Moet asseblief nie onnodige onkostes aangaan nie!
(Geen blomme of lekkers mag gestrooi word nie!)
(Seuns moet asseblief hemde aanhê en dit aanhou gedurende
die kompetisie.)
KAN JOU KIND SE SKOOL REGTIG HUISWERK AFSKAF?
Namate sommige skole huiswerk trekpas gee, gesels Deborah Herd met opvoerders om uit te
vind wat dit sal verg om dit die norm vir alle Suid-Afrikaanse leerlinge te maak.
Stel jou voor jy kan jou kind na ‘n laerskool stuur waar elke graad 4-leerling ‘n “iPad” kry,
waar Engels en Wiskunde op interaktiewe “iBooks” aangebied word, en waar musiek en
beweging deel van die normale klaskamerroetine is. Daar is ‘n 1 km-staproete op die
skoolterrein waarheen onderwysers hul klas neem wanneer die kinders rusteloos raak. Die
gange en mure is oranje, pienk en groen. En – die kersie op dié aanloklike opvoedingskoek -
jou kind is so gefokus en bemagtig in die ses en ‘n half uur by die skool dat daar nie rede vir
huiswerk is nie.
Wanneer die skool uitkom, kan jou kind sport beoefen, buitemuurse aktiwiteite doen of
speeltyd geniet, gevolg deur ‘n gesinsete, ‘n bad en 20 min se leestyd in die bed. Geen haas,
geen stres, geen laat aande, geen eindelose ure aan ‘n skoolbank gekluister nie - en geen
konflik wanneer jou kind nie die wiskundebegrip verstaan wat jy “so kalm” verduidelik nie.
Dit klink soos ‘n alternatiewe of ‘n private skool, maar dit is eintlik die scenario by ‘n
staatslaerskool, die Sun Valley Primary School in Kaapstad waar die hoof, Gavin Keller, sy eie
opvoedingskoers bepaal. As Keller se naam bekend klink, is dit omdat hy die afgelope 18
maande in verskeie koerante en tydskrifte aangehaal is en sy naam in talle ouers se
parkeerterreingesprekke opduik. Maar dis nie die skool se “breingebaseerde”
opvoedingsinisiatiewe wat bespreek word nie. Dis die feit dat Sun Valley se onderwysers in
2015 ophou huiswerk gee het – ‘n besluit wat byna net soveel debat as die Banting-dieet
ontlok het. Keller is die Tim Noakes van onderwys, en huiswerk is sy brood.
‘n Dieet van huiswerk
Baie van ons kla dat ons kinders gespanne en oorwerk is, en dat hul jong lewens hopeloos te
besig is. Baie laerskoolkinders begin hul dag om 07:00 sodat hulle koor- of tennisoefening
voor skool kan inpas. Namiddae is dit sport, buitemuurse aktiwiteite en ekstra lesse. Saans
en naweke word daar aan huiswerk en projekte gewerk.
Dis nie ongewoon vir die gemiddelde 10-jarige om eers na 18:00 by die huis te kom nie. Die
meeste van ons vermoed dat ons kinders baie minder vrye tyd het as wat ons gehad het, en
ons is reg. Maar, en dis ‘n groot maar, ons is al so gewoond daaraan dat huiswerk deel van
ons kinders se skooldieet is dat wanneer iemand sê hulle het dit nie meer nodig nie – en
boonop dat dit hulle eintlik skade doen – weet ons nie wat om te dink nie. Sonder huiswerk
sal hul punte tog seker daal? Sal hulle deur die kurrikulum kom?
Sal hulle gereed wees vir die Hoërskool? Hulle sal tog seker nie by ‘n gewone Hoërskool kan
inkom nie? Sal hul matriekuitslae goed genoeg wees om universiteit toe te kan gaan?
Keller glo huiswerk is allesbehalwe voordelig vir ‘n jong verstand en veroorsaak eerder dat
kinders wat reeds oorlaai is, uitgeput, angstig en breindood voel. “Na ses en ‘n half uur se
skoolgaan is die jong brein nie gereed om enigsins nog fokuswerk te doen nie,” sê hy. En hy
glo dat pleks van ‘n liefde vir leer – en vir skool – te kweek het huiswerk juis die
teenoorgestelde uitwerking.
Sarah du Toit, ‘n onderwyser wat al 20 jaar in Suid-Afrika en Brittanje skoolgee, stem saam.
“Tensy ‘n kind met basiese vaardighede sukkel, is huiswerk onnodig. Vir die meeste
laerskoolkinders is die skooldag reeds lank genoeg en as die dag doeltreffend bestuur word,
kan al die nodige leerwerk by die skool plaasvind. Doeltreffende skoling vereis ‘n
doeltreffende, goed gedissiplineerde omgewing. Dissipline, so terloops, is nie ‘n negatiewe
woord nie. Dissipline is noodsaaklik vir kinders om te kan leer.”
En, voeg sy by, die risiko om negatiwiteit rondom skoolwerk te skep is net te groot. “Daar is
reeds genoeg druk op die moderne gesin. Ouers wil liefdevol wees, omgee en luister wanneer
hul kinders by die huis is en nie die ‘huiswerkpolisie’ wees nie. Die huis is ook ‘n
leeromgewing, maar dis nie die skool nie. By die huis wil ons ons kinders ander goed leer,
soos belangstelling, praktiese probleemoplossing, verdraagsaamheid, goeie humor, geduld…..”
Keller glo die voortdurende debat oor huiswerk kyk die werklike kwessie mis: om skole te
skep waar kinders so doeltreffend leer dat dit nie nodig is om werk huis toe te stuur nie. “Dit
help nie jy skaf huiswerk af, maar die klaskamer is steeds ‘n onbemagtigende ruimte nie,” sê
hy. “Dit gaan daaroor dat ons moet seker maak ons onderrig is so dinamies, so relevant, so
betekenisvol en so oordraagbaar dat jy nie nodig het om dit by die huis te oefen om dit te kan
doen nie.”
Hy sê opvoeders moet daarna streef om 21ste-eeuse skole te skep met onderrig wat die brein
“aanskakel en nie afskakel nie.” In hierdie dinamiese, digitale era moet ons klaskamers
herbedink – as ruimtes waar daar dalk ‘n slaansak, ‘n speelmat, bonsballe pleks van stoele en
werkstasies pleks van skoolbanke is.
Minderbevoorregtes kry die swaarste
Dis natuurlik makliker gesê as gedaan in die meeste Suid-Afrikaanse laerskole, waar
hulpbronne skaars is, klaskamers uit hul nate bars en onderwyseropleiding ongelukkig nie baie
21ste-eeus is nie. (Sun Valley het hul eie akademie om onderwysers op te lei.) Maar Keller
verduidelik dit is dikwels leerlinge van minderbevoorregte skole vir wie huiswerk die swaarste
las is.
“Baie kinders gaan terug na huise waar daar nie volwassenes is of enige ondersteuning of ‘n
omgewing vir hulle om ure lank huiswerk te doen nie. Hulle gaan met ‘n agterstand terug
skool toe.” Dis kwalik verbasend dat die skoolverlatingskoers in minderbevoorregte skole in
Suid-Afrika in graad 10 byna 50% is.
Vir dié van ons wat in die 70’s en 80’s skoolgegaan het, is laerskool sonder ure se huiswerk
nie ‘n nuwe idee nie. Ons het geleer spel, somme gemaak en soms projekte gedoen. Ons is
nie huis toe gestuur met huiswerk vir elke vak van wiskunde tot musiek nie. Tog hou
opvoeders vol dat dit nodig is om deur die kurrikulum te kom en om begrippe en inhoud vas
te lê wat in die klas geleer is. Keller sê onderwysers moet verstaan dat die Kurrikulum-enassesseringsbeleidverklaring
(KABV) ‘n riglyn is, nie ‘n opdrag nie, en dat skole die leerlinge
vaardighede en begrippe moet leer, nie inhoud nie. Sun Valley is KABV-inskiklik, maar volg “’n
geïntegreerde kurrikulum”, sê hy. Pleks van afsonderlike vakke soos geskiedenis, geografie
en wetenskap het hulle ‘n tema per jaargroep. Die leerlinge kry dan die geskiedenis, die
geografie en die wetenskap binne-in hierdie temas. Hulle word ook aangemoedig om elke
dag vir minstens 20 minute by die huis te lees.
Vir toppresterende milleniumouers en uitkomsgebaseerde opvoeders is die sterkste argument
ten gunste van geen of min huiswerk die feit dat studies toon dat huiswerk op laerskoolvlak
geensins sukses op hoërskool verseker nie.
‘n Amerikaanse span onder leiding van dr. Harris Cooper, ‘n professor in sielkunde en
neurowetenskap, het ‘n oorsig van tientalle studies oor huiswerk en resultate gedoen, en hul
navorsing het getoon dat hoewel huiswerk beduidende uitkomsgebaseerde voordele op
hoërskool het, dit geen voordeel inhou vir laerskoolleerlinge wat nog besig is om
studiegewoontes, soos konsentrasie en selfregulering, te ontwikkel nie.
Dis nie verbasend nie dat die navorsing ook getoon het dat om in die klas te leer, met
behoorlike onderwysers en onderrig, baie belangriker vir akademiese uitslae is as wat
huiswerk is. ‘n Goeie bewys hiervan is die skolestelsel in Finland, waar daar geen huiswerk op
laerskoolvlak gegee word nie, maar waar studente boaan die internasionale akademiese
piramide is en waar twee uit elke drie leerlinge universiteit toe gaan.
Belê in onderwysers
Wat Finland meer as enige ander land doen, is om in hul onderwysers te belê. Slegs die top -
10% van gegradueerdes word in onderwysprogramme aanvaar en hulle moet ‘n
meestersgraad hê. Onderwysers word dus net so hoog soos dokters en prokureurs geag.
Maar iets wat dalk selfs relevanter vir akademiese uitkomste is, is dat daar in Finse klaskamers
een onderwyser vir elke 12 leerlinge is. Hulle het ook beduidend minder gestandaardiseerde
toetse.
Teen die tyd dat kinders op hoërskool kom, hou huiswerk wel akademiese voordele in, maar
selfs dan word dit in matigheid gegee. Twee uur per aand is die perk. Daarna raak die
voordele al hoe minder. Keller stem saam dat leerlinge van graad 10 af studietyd nodig het –
“graad 10, 11 en 12 gaan oor oorlewings-eerder as lewensvaardighede” – sodat hulle
matriekeksamens kan skryf en toelating tot tersiêre instellings kan verkry.
Hoewel Cooper se ontleding geen bewyse gevind het dat huiswerk op laerskool akademiese
voordele inhou nie, het dit wel gevind dat huiswerk ‘n negatiewe uitwerking op kinders se
houding teenoor skool het. Vra enige kind wat hulle van huiswerk dink. “Meer werk!” Dis soos
wanneer óns werk huis toe vat – dit grief ons en ons doen dit gevolglik minder doeltreffend.
Keller sê die brein skakel af wanneer dit onder druk is. Dit het tyd nodig – deur speel, rus en
oefeninge – om die dag se werk te verwerk. ‘n Kind wat pas met skool begin, verdien ‘n kans
om ‘n liefde vir leer te ontwikkel. Maar huiswerk op ‘n vroeë ouderdom kan kinders teen skool,
toekomstige huiswerk en akademiese studie gekant maak. En in ‘n land waar opvoeding
noodsaaklik vir vooruitgang en bemagtiging is, kan dìt rampspoedig wees. Die goeie nuus is
dat ál meer opvoeders oor die land heen begin belangstel in wat Keller te sê het en meer van
breingebaseerde onderwys wil leer. “Daar’s geweldige belangstelling,” sê hy. “Ek word gevra
om byna elke week op konferensies te praat.” Maar hy verstaan dat skole – en
onderwysdepartemente - nie dinge oornag kan verander nie. Hy sê sy doelwit is om die
gesprek aan die gang te kry en om opvoeders en ouers sover te kry om anders oor die
funksionering van skole te dink en om die manier waarop ons skole werk te hersien en te
heroorweeg. As die mediadekking wat hy kry enigsins ‘n aanduiding is, lyk dit asof hy tot
dusver in sy doel slaag.
WAARDE VAN DIE WEEK:
Respek
Ons is beleef, goedhartig en
aanvaar mense net soos hulle is.
Ons Vader het almal gelyk geskape,
daarom respekteer Larries mekaar en ander.
GEDAGTE VIR DIE WEEK
Bid vir beskerming teen gevare
Dankie, Here, vir u talle beloftes van beskerming. Ek bid dat u ‘n muur van veiligheid en
beskerming aan alle kante van my kind sal oprig
Help hom/haar om u pad te bewandel in gehoorsaamheid aan U wil sodat hy/sy nooit onder u
beskermende hand sal uitkom nie. Hou hom/haar veilig in alles wat hy/sy doen en waar hy/sy
ook al mag gaan. In Jesus se Naam bid ek dit.
Amen
Larriegroete
J. F. JANSEN VAN VUUREN
HOOF