scenarioJunie
scenarioJunie
scenarioJunie
Create successful ePaper yourself
Turn your PDF publications into a flip-book with our unique Google optimized e-Paper software.
68

••• IN MY VISIER

Onbewaakte oomblikke

Dit was laatmiddag. Donker

skadu’s het in die ruie onderbos begin opdam en

plek-plek reeds teen stamme en takke uitgebeur

na waar flentertjies son nog aan boomtoppe bly

hang het.

Ek was moeg, dors en ’n bietjie moedeloos

want my dag het vroeg begin, maar ten spyte van

my beste pogings het dit gelyk asof ek weer eens

leëhand by my kamp sou aankom. Stap net een

laaste draai, sommer daar onder die riffie waar die

tamboties en sekelbos dig op die gelykte bondel,

het ek myself aangemoedig. ’n Mens weet nooit…

soms wys die bos juis sy geheime wanneer jy dit die

minste verwag.

Voor my het die tamboties gewink, hul herfskleure

rooi soos bloed in die laaste spatsels son.

Ek is suutjies en bitter stadig met die tweespoorpad

langs. Elke nou en dan het ek vasgesteek, gekyk

en geluister, dan weer gekyk. My oë het skadu vir

skadu ontleed, soekend na die groot, grys lywe wat

ek weet moeilik in die vaal lig sigbaar sou wees.

Die koedoes het my die hele dag lank al ontwyk en

met die swakker wordende lig het ek geweet dat

my kans om hulle op te spoor steeds skraler word.

Soek vir hul gelerige sokkies (die onderbene) en

beweging, het ek myself gemaan.

Rondom my het die veld stil geraak. Dis mos asof

die bos vir ’n rukkie asem ophou voordat die deur

finaal oopswaai sodat die nag met al sy geluide kan

inglip daar waar die dag sy lêplek loop maak het.

Voor my, iewers reg langs die pad het die geklap van

’n tak wat breek die stilte versteur. Vir ’n oomblik

het ek glad nie kon raai wat die oorsaak daarvan

was nie en toe tref dit my…koedoes! Dit kon net ’n

bul wees wat ’n tambotie- of sekelbostak gebreek

het om ’n peuseldingetjie by te kom.

Ek het op my hurke neergesak en my oë het

vinnig gesoek. Weer het ’n tak geklap en toe sien ek

die beweging. Skaars 100 treë voor my en minder

as tien treë regs van die pad het twee vaalgrys diere

beweeg. My verkyker het gewys dis twee koeie;

presies waar die bul was kon ek nie sien nie, want

die bos was te ruig. Agter sy bloed was ek nie, maar

Koos Barnard

die koeie s’n wel, want ek het kookvleis gesoek, nie

’n trofee of biltong nie. “Kyk maar of jy ’n droë koei

kan skiet,” het vriend Willem Basson gesê toe ek

drie dae tevore my bakkie op sy werf staanmaak.

Die verkyker het gewys daar is drie koeie en ’n

sterk verskalf, een wat beslis al gespeen was. Van

die bul kon ek later net ’n stukkie lyf en horingpunte

sien. Die koedoes was onbewus van my, totaal

geabsorbeer in die taak om delikaat die blare van

bosse te stroop. Ek het op my hurke gebly en

sowat 40 treë nader beweeg. Skielik het een koei

weggebreek van die bos waaraan sy gevreet het en

skuins oor die tweespoorpad na links gestap.

Ek het vinnig plat op my boude gaan sit en die

.375H&H wat ek reeds tevore oorgehaal het aan

my skouer gebring. Die tweede koei het die eerste

se voorbeeld gevolg en ek moes haar stop voor sy

die pad verlaat. Willem het die vorige dag gespot

dat ek dalk sy honde sou nodig hê om my bok te

gaan soek indien ek dit kwes. Daarom wou ek seker

maak van ’n eenskoot-doodskoot.

Net toe die koedoe die middelman oorsteek, het

ek sag maar duidelik hoorbaar na haar geroep, “Hey

koedoe.” Sy het vierspoor vasgesteek en my amper

dadelik in die pad sien sit, maar vir haar was dit te

laat. Toe die kruishaar laag op haar bors vassteek,

het ek die sneller gedruk.

Skaars 50 treë vanwaar sy die koeël ontvang het,

het ek by haar gaan kniel en toe daaraan gedink dat

’n onbewaakte oomblik die koedoe haar lewe gekos

het. Die groepie het toegelaat dat die sinlike genot

van etery, hul waaksaamheid verslap het. En op

plekke waar gevaar immer skuil, is dít fataal.

Die wet van die bos bepaal dat diegene wat

daar wil oorleef elke oomblik moet waak. Dieselfde

geld vir ons – in ons persoonlike lewens en veral

in ons omgang met ons medemens. Jy of iemand

anders verloor dalk nie jul lewens nie, maar wat

jy in onbewaakte oomblikke sê of doen, kan dalk

modderspore trap waar dit nie hoort nie. S

Koos Barnard is ’n voltydse jagskrywer.

www.senwes.co.za • Junie 2012

Koo